Briewe van lesers

Inwoners steeds dorp se grootste bate

As ’n inwoner wat 12 jaar gelede op Oudtshoorn kom “aftree” het, kan ek met sekerheid sê dat ons dorp sedertdien in baie opsigte verander het. Gelukkig kan ek egter ook sê dat die vriendelikheid van sy inwoners steeds sy groot bate is.

Daarom wil ek dankie sê aan al die kassiere en winkelassistente wat, ten spyte van die pandemie met ge­paard­gaande maskers en handreiniging, altyd vriendelik en beleefd met kliënte was en is.

Ek en ek glo ook ander waardeer dit baie. Geseënde Kers- en feestyd.
– Espie, Oudtshoorn

Noem dorp eerder weer Veldschoendorp

Baie jare gelede het ek op skool geleer Oudtshoorn was in 1689 bekend as Veldschoendorp, soos genoem deur die Griekwas.

Volgens die geskiedenis was dit ’n vooruitstrewende en groeiende dorp. Al die inwoners was verskriklik trots en het alles gedoen om die dorp te ont­wikkel. Ons dorp was ook pragtig en skoon.

Vandag beleef ons die teen­oor­gestelde: ons dorp is baie vuil en baie gee geen duit om nie!

Die agteruitgang van ons middedorp is ’n groot tragedie!

Om inkopies in Hoogstraat te doen is geen plesier nie; die straatkinders en karwagte regeer! Daar word enigiets op straat verkoop en dronk mans urineer in elke hoekie. Tot my skok het ek self gesien hoe tik en ander dwelmmiddels verkoop en gerook word.

In die ou dae het ons Polisie gereeld stap/loop-patrollies gedoen. Deesdae ry hulle slegs met polisievoertuie verby en sien niks verkeerd nie!

Die veiligheid van veral die ouer ge-slag inwoners word definitief geraak.
Dit lyk ook vir my of ons munisipaliteit nie in beheer van ons dorp is nie.

Stoptekens is deesdae toegee­- te­kens; hoekom moet enigeen stop?

Mense stort deesdae hul vullis op enige plek, sonder dat teen hulle opgetree word.

Miskien moet ons weer ons dorp hernoem na Veldschoendorp.

Ek weet sommige mense sal dit wensdenkery noem, maar dalk kan dit ’n baie positiewe verskil maak in ons lewens!
– POWWOW, Oudtshoorn

Vanjaar geen Kersgeskenk vir Oudtshoorn se kinders

As kinders in Nelspruit het ek en my broer somertyd in die oorlogsjare net voor twee – saam met al die dorps­kinders – met ons twee pennies reg gestaan vir toegang tot die swembad vir ’n hele middag se speel en gejoel in ’n blou skoon swembad met toesig, orde en verantwoordelike mense aan diens, vriendelik en waaksaam.

Dit was ons somerplesier in die hitte by ’n munisipaliteit wat sy plig nage­kom, sy werk gedoen, en sy dorp in stand gehou het vir sy jeug.

Wat moet Oudtshoorn se kinders hier­die somer van 2020 doen?
– Madeleine Lategan, Oudtshoorn