Briewe van lesers: 20 Oktober 2022

Glen nie die 1ste wat protesteer!

Die onlangse beriggewing aangaande Glen Snyman se geregverdigde siening dat rasseklassifikasie op alle regeringsdokumente geskrap moet word, verwys.

Dit herinner my aan die woorde van ene Hendrik Bibault op 6 Maart 1707 tydens ’n onderonsie met ’n Stellenbosse landdros wat hom met ’n rottang te lyf gegaan het oor sy en drie ander se uitbundige gedrag in die strate van die dorp.

Hendrik en drie van sy maats het uiting gegee aan hul vreugde oor ’n gunstige uitslag van die Here XVII ná ’n geskil tussen ’n boer en ’n amptenaar. Hulle het onder meer bakke meel uitgestrooi by die plaaslike meul aan die bopunt van die huidige Dorpstraat.

Hy sou toe uitgeroep het: “Ik wil niet lopen, ik ben een Africaander!”

Glen is dus nie die eerste persoon wat geregverdig protesteer nie. Hy het ’n punt beet.

Dit is tog uitsonderlik dat die staat rasseklassifikasie slegs toepas wanneer dit hul pas, soos om te kwalifiseer vir staatskontrakte, of om te kan aansoek doen vir ’n pos by die Dischem-groep.
– Pieter, Oudtshoorn

Nostalgie oor swembad

Na aanleiding van die berig op die voorblad van Die Hoorn van 3 Oktober 2022 dat toekomstige swemgalas na George verskuif gaan word, dink ek nostalgies terug aan baie jare gelede.

Freda Barnard se swemskool het bestaan uit die Barnards, Louws, Carlisles, Milehams en ons families.

Die Barnards het ’n baie groot deel van hulle lewe opgeoffer vir ons swemkinders.

Ons het die meeste van die galas bygewoon, vanaf Kaapstad tot in Durban, om so ons lojaliteit aan hulle afrigter te bewys.

Dit is so hartseer dat ons sportfasiliteite so agteruitgegaan het.

Dankie, mnr Macpherson, dat u positief is oor ons sporttoekoms, aangesien dit ’n groot inkomste vir ons dorp is.

Sterkte aan Delia wat haar ma se voetspore (swemvinne) volstaan.

Sportgroete.
– Mona Brittnell, Oudtshoorn