OUDTSHOORN ontvang tans water direk uit die Mellvilledam aangesien ‘n toevoerpyp vanaf die Raubenheimerdam na die dorp Dinsdag gebreek het. Die Melvilledam kan Oudtshoorn sowat 30 dae van water voorsien.
Volgens Ntobeko Mangqwenqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, is ‘n spesialis-kontrakteur reeds besig met herstelwerk en daar gaan gepoog word om dit in die volgende twee weke te doen. “Die herstelwerk word bemoeilik deurdat dit in ‘n beperkte ruimte in ‘n tonnel onder die wal gedoen moet word. Die pyp wat 400 mm in deursnee is, is ook met beton omhul wat eers weggebreek moet word.” .
Mangqwengqwe sê daar word nie voorsien dat die watertoevoer na die dorp onderbreek word nie, aangesien die reservoirs in die dorp genoeg plek het om piekvloeie te akkommodeer. Die Buffelsdrift- en Schoemanshoek-gebiede wat direk uit die hooftoevoerlyne voorsien word, mag egter tydens piektye onderbrekings in watertoevoer ervaar.
Mangqwengqwe het inwoners versoek om steeds water te spaar. “Hoewel die damvlak tans bo 50% is, is die droogte nog steeds nie gebreek nie.”