‘N MAN van Mosambiek, Nelson Carlos Balane (35), is Donderdag (7 Mei 2020) tot 10 jaar gevangenisstraf in die Oudtshoorn Streekhof gevonnis – sewe jaar nadat R100 000 se gesteelde Telkom-koperkabels in ‘n bakkie gevind is waarmee hy van die polisie weggejaag het. Die Toyota Hilux-bakkie was ook gesteel.
Volgens die woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, lt.kol. Philani Nkwalase, het die hof ook op Balane se voertuig beslag gelê, terwyl hy onbevoeg verklaar is om ‘n vuurwapen te besit.
Balane het op Woensdag 17 April 2013 van die polisie weggejaag toe hulle hom probeer stop het om sy motorvoertuig te deursoek. Die polisie het die Toyota Hilux-bakkie agternagesit, maar Balane in ‘n stadium die bakkie verlaat en verder te voet gevlug.
‘n Lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik waarna die ondersoekspan van die Wes-Kaapse Valke se afdeling vir ernstige misdade Balane op 15 Mei 2014 in Benoni opgespoor en in hegtenis geneem het.