Bekende groet Oudtshoorn

Thys Zondagh.

Thys Zondagh.

’N BEKENDE inwoner van Oudts­hoorn, Thys Zondagh, neem binnekort afskeid van die dorp.
Thys, wat op 9 Julie 1949 in Oudts­hoorn gebore is, gaan hom nou – 50 jaar na sy matriekjaar – by sy seun in Pietermaritzburg vestig.

Die Zondaghs het ’n lang geskiedenis met die Volstruisdorp.
Thys se pa, Matthys Lawrence (Lawrie) Zondagh, is afkomstig van die Zondagh-families van die Lang­kloof. Hy het sy skoolloopbaan by die Hoër Seunskool op Oudtshoorn gedurende die 1930’s voltooi en wou verder studeer op Stellenbosch inplaas van boer. Dit het sy pa, Matthys Petrus Hendrik (Thys Vale) van die plaas Greylock hewig ontstel en hy het hom onterf. Lawrie se ouer susters het die boerdery oorgeneem.

As enigste seun het Lawrie ’n rekenmeester geword nadat hy sy BCom-graad op Stellenbosch in die vroeë 1940’s verwerf het.

In 1947 het hy met Ester Sophia van Heerden getrou, ’n verpleegster by die Oudtshoorn Hospitaal. Hulle het drie kinders gehad: Lawrine (nou Zander), Thys (Matthys Petrus) en Bennie (of Poelie soos baie van sy vriende hom geken het). Bennie woon tans in Pretoria.

Lawrie is bekend on­der tabakboere en die besigheidsgemeenskap in Oudtshoorn. Vroeër jare het hy baie inwoners met hul inkomstebelasting gehelp.

Lawrie en Ester was baie betrokke by die Voortrekkers op die dorp. Na Ester se vroeë dood het Lawrie met Jackie Guiness Brink van Old Mutual getrou. Die paartjie woon nou op George.

Thys het Oudtshoorn in 1966 na sy matriekjaar verlaat, maar later terug­gekeer en by die Oudtshoorn Hospitaal se administratiewe afdeling ge­- werk. Hy het vroeg afgetree en na sy pa, Lawrie, se dood van sy kliënte oorgeneem. Hy het met Magriet de Koker van Gauteng getrou. Sy was later werksaam by die munisipaliteit.

Die paartjie het drie kinders gehad, waarvan die twee seuns tans in KwaZulu-Natal woon. Hul dogter, Riëtte, is ’n veearts in Engeland.