Skool vra hulp van gemeenskap om hul biblioteek uit te brei

Regs: Leerders van Bergsig Primêr hier saam met van links agter Bianca Booysen (biblioteekaresse), Willy Freeks (hoof) en David Arends (onderwyser).            Foto verskaf

Regs: Leerders van Bergsig Primêr hier saam met van links agter Bianca Booysen (biblioteekaresse), Willy Freeks (hoof) en David Arends (onderwyser). Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
BERGSIG Primêr op Oudtshoorn wil graag sy biblioteek uitbrei en vra die gemeenskap om hulle daarmee te help. By dié skool is die biblioteek baie belangrik. Hulle het byvoorbeeld van 18 tot 26 Maart die Nasionale Biblioteekweek met oorgawe gevier.

“Laurette Campher, ons boekverskaffer, het ­sto­ries vir die kinders gelees – met kostuum en al. Die kinders het ook self gelees en ons het ’n inkleuruitdaging gehou. Ek het die kinders op ’n toer deur die biblioteek geneem om te wys waar hulle boeke kan kry,” vertel Bianca Booysen, biblioteekaresse.
Volgens Willy Freeks, prinsipaal, kan die kinders meer as wat die normale rooster stipuleer, die biblioteek besoek. “Die kinders geniet dit baie. Hulle begin nou selfs na skoolure die biblioteek gebruik. Lees verryk algemene kennis en leer hoe om inligting te versamel vir take en projekte.”

“Ons wil die biblioteek in ’n plek van uit­nemendheid omskep – vir die leerders en opvoeders,” sê Booysen. “Later wil ons dit beskikbaar maak vir ouer kinders en die gemeenskap.”

Die biblioteek het ’n groot behoefte aan fiksie en nie-fiksie-boeke, kinderstories, naslaanboeke, opvoedkundige DVD’s en CD’s – asook ’n sitplek of mat vir die klein kinders se leeshoekie.
Rig navrae aan Bianca Booysen by 044 272 3167 of 0623964071.