Kleuterskool sê dankie vir Oupa Jafta

Die kinders van Katryntjie Voorskoolse Sentrum sing ’n paar liedjies vir oupa Jafta.          Foto: Ilze-Mari Gründling

Die kinders van Katryntjie Voorskoolse Sentrum sing ’n paar liedjies vir oupa Jafta. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
’N PLAASLIKE kleuterskool, die ­Katryntjie Voorskoolse Sentrum, het einde Maart ’n besoek aan ’n baie spesiale man afgelê.

Toe die Katryntjie Voorskoolse Sentrum die Konsistoriesaal van die Volks­kerk van Afrika in 1998 gehuur het, het hulle ’n besonderse man – bekend as Oupa Jafta – ontmoet.

Hy was voorheen die opsigter en word beskryf as ’n moedige man wat in menige harte inkruip. Hy het tot op die ouderdom van 80 sy fiets getrap soos ’n jong man en het gereeld groente geplant.

Deesdae is die 92-jarige Oupa Jafta afhanklik van ’n rolstoel en geniet dit om in die oggendson te sit.
“Oom Jaffie het nie net as opsigter van die kerk opgetree nie, maar ook as oupa van die kleuterskool. Hy kon altyd die kinders kalmeer en die mooiste stories van sy kleintyd vertel,” vertel ­Katriena Fortuin, prinsipaal.

Die onderwysers en kinders het ’n kospakkie en ’n kombers aan Oupa Jafta as geskenk gegee om dankie te sê vir sy bydrae deur die jare. Daarna het die kinders ’n paar liedjies vir hom gesing.

“Ons is baie dankbaar vir Oupa Jafta se hulp en ondersteuning. Hy het ’n groot bydrae in ons lewens gemaak.”