Dys Grundling met Grundheim se Rosyntjiewyn en Cape Ruby in die een hand en Black Mountain Karoo Flora Gin en Black Mountain Karoo Dry Gin in die ander hand. Al vier het presteer by vanjaar se Michelangelo International Wine & Spirit Awards.
GRUNDHEIM wes van Oudtshoorn het vanjaar uitstekend presteer by die Michelangelo International Wine & Spirit Awards met ’n platinum medalje vir hul Rosyntjiewyn en goue medaljes vir hul Cape Ruby, Black Mountain Karoo Flora Gin en Black Mountain Karoo Dry Gin.
Wat die prestasie meer uitsonderlik maak, is dat Grundheim net dié vier produkte ingeskryf het, en dat dit die tweede keer is dat die Rosyntjiewyn ’n platinum-medalje ontvang het.
Die toekennings is Vrydagaand (29 September) tydens ’n deftige onthaal in die Cape Southern Sun Hotel in Kaapstad oorhandig.
Dys Grundling, die wynmaker van Grundheim Wyne, sê die “Gin-reeks” is produkte van Grundheim Craft Distillery, ’n vennootskap tussen hom en Juan Koen van BrandRepublic, ’n onderneming wat fokus op die bemarking van wyn, bier en spiritualieë.
Die Black Mountain-reeks is sowat 10 maande gelede bekendgestel en is reeds by Grundheim, Timberlake Wine Shop in Wildernis asook by ander vooraanstaande drankwinkels in die Suid-Kaap beskikbaar.