Calitzdorp se wynkelders het vanjaar hul merk by die Klein Karoo Streeksjongwynskou gemaak, met Boplaas, De Krans en Calitzdorp Wynkelder wat onder die groot wenners tel.
Die uitslae van die jaarlikse skou, waar produsente hul nuwe wyne van 2026 laat beoordeel het, is op Woensdag 12 Augustus bekend gemaak.
Boplaas Wynkelder is as Kampioen Privaatkelder aangewys en het ook die Columbit-trofee ontvang.
Die kelder het die Reserwe Kampioenwyn met sy Kampioen Nie-Muskaat Versterk opgelewer.
Boplaas het verder die Kampioen Droë Rooi met ’n Souzao, wat ook as Kampioen Ongewone Rooi aangewys is, asook die Kampioen Ongewone Wit met ’n Alvarinho opgelewer.
Die kelder het boonop die Vinpro-trofee vir die Kampioen Wingerd ontvang.
De Krans Wynkelder is as Reserwe Kampioen Privaatkelder aangewys.
Sy Sauvignon Blanc het die titel as Kampioen Droë Wit verower, terwyl ’n Verdelho as Reserwe Kampioen Ongewone Wit aangewys is.
Calitzdorp Wynkelder het ook rede gehad om fees te vier nadat die kelder as Reserwe Kampioen Produsente Kelder aangewys is.
Die kelder het die Kampioen Na-tuurlike Soet, Reserwe Kampioen Merlot en Reserwe Kampioen Muskaat opgelewer.
Die plaaslike kelders kan met trots terugkyk op vanjaar se jongwynskou, met verskeie toekennings wat hul harde werk bekroon het.
Plaaslike kelders beïndruk by jongwynskou
Die Boplaas-span saam met van die toekennings wat die kelder vanjaar in die Klein Karoo Streeksjongwynskou verower het. Van links is Margaux Nel, Tessa Carelse, Michael Baartman, Titus Baartman en Petrus Jonkers.
Be the first to comment on "Plaaslike kelders beïndruk by jongwynskou"