Ladismith en Calitzdorp – juwele langs die R62: Amper winter- en rooiwyntyd

Met die winter wat stadig maar seker naderkruip, begin baie wynliefhebbers reeds hunker na rooiwyn om die byt uit die winterkoue te vat… rond­om braaivleisvure, voor kaggelvure of aan tafel saam met heilsame kos.

Die De Krans-privaatkelder buite Calitzdorp het net die regte metgesel vir elkeen van daardie geleenthede, en veel meer. De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon 2017 is die ideale wyn vir elke geleentheid, en alledaagse genot.

De Krans gebruik ’n ou mandjiepars om die druiwe vir hierdie wyn fyn te druk. Die druk op die druiwe is veel sagter en sorg vir sagter, sappiger tanniene. Op sy beurt laat dit die wyn toe om jonk geniet te word.

Hoewel die wyn steeds getrou is aan die tipiese cabernet sauvignon-karakter van donker vrugte en kersiesigaar, is dit ’n verfrissende alternatief vir die swaargewigte waarvoor hierdie kategorie be­kend is.

Die Basket Press Cabernet Sauvignon het ook net matige houtkontak gehad wat bydra tot sy drinkbaarheid.

Die De Krans Basket Press Cabernet Sauvignon 2017 is ook baie bekostigbaar en kos slegs R75 per bottel.

• De Krans, tradisioneel bekend vir sy veelbekroonde portwyne, het ook ’n sogenaamde terroir-wynreeks waar die klem val op tafelwyne wat gemaak word van Portugese kultivars, asook ’n klassieke kultivar-reeks wat wyne soos die Free-Run Chenin Blanc, Wild Ferment Chardonnay en Pinotage Rosé insluit.

Die Basket Press Cabernet Sauvig­non is deel van die klassieke kultivar-reeks, buitengewoon lig en gemaklik, en die ideale “braaiwyn”. Dit kombineer ook puik met pastadisse en pizza.