BOPLAAS Familie Wingerde in Calitzdorp het onlangs uitstekend presteer en die hoogste punte by die Cape Winemakers Guild (CWG)-veiling van al die wyne behaal. Carel Nel, keldermeester, is sedert 1988 lid van die gilde waarvan lidmaatskap slegs op uitnodiging geskied.
Die Boplaas CWG Cape Tawny Reserve 2005 het 95+ punte van Robert Parker, internasionale wynkenner van die VSA, ontvang. Die Cape Tawny Port het 16 jaar in vate verouder voordat dit gebottel is. Die hoogste prys waarteen die wyn verkoop is, was R1 694 per bottel, BTW ingesluit.
Die Boplaas CWG Daniel’s Legacy 2020 is ’n rooi versnit van die Portuguese kultivars – Touriga Nacional, Tinta Barocca, Shiraz en Cabernet Sauvignon en het 94+ punte ontvang van Parker. Die hoogste prys waarteen dié wyn verkoop is, was R1 431 per bottel, BTW ingesluit.
Altesaam 513 lotte is by die jaarlikse CWG-skou deur Strauss & Co opgeveil, met ’n omset van R13 985 500.
Hierdie wyne word eksklusief by die Cape Winemakers Guild-veiling verkoop.
Internasionale wynkenner gee Boplaas hoogste punte by Cape Winemakers Guild
Carel Nel van Boplaas.