Oudtshoorn-trompoppies maak geskiedenis!

Die trompoppies van Laerskool Van Reede wat vanjaar geskiedenis gemaak het by die nasionale trompoppiekampioenskap in aksie. Alle trompoppiefoto’s verskaf

VIER GOUES ELK! Oudtshoorn se Larashelle Vyver, Cameron Human, Jazmin May, Jordan Bisschoff, Megan Presher, Bernalee Hifke en Christal Baartman by die president van die SA Majorette and Cheerleading Association (SAMCA), Wayne Oberem. Dié groep oud-trompoppies van Laerskool Van Reede en Hoërskool Oudtshoorn, bekend as Oudtshoorn Tertiary, het in vier afdelings by die nasionale trompoppiekampioenskap goue medaljes gewen!

Die skitterende trompoppiespan van die Hoërskool Oudtshoorn.

DIE trompoppies van twee skole in Oudtshoorn, Laerskool Van Reede en Hoërskool Oudtshoorn, het vanjaar geskiedenis gemaak en die beste uitslae nog behaal by die South African Majorette and Cheer­leading Association (SAMCA) se nasionale kampioenskap wat van 3 tot 5 Oktober in Polo­kwa­ne plaasgevind het.

Dié twee skole het in die kampioenskap se top­liga, die Elite-liga, deelgeneem met van Suid-Afri­ka se grootste skole as hul mededingers. Hulle spog met verskeie goue, silwer en brons medaljes wat hulle in die onderskeie afdelings gewen het.

Twee groepe van Oudtshoorn het goud gewen.

Die een groep goue sterre is die subleiers van Laerskool Van Reede se Small Drill-groep: Payton Gerber, Paythen Bennie, Hurenique Kruger, Isiphi­le Mthuthutswane, Chloë May en Layla Macgear.

Die ander is Oudtshoorn Tertiary, ’n groep oud-leerders van die twee skole wat reeds skool verlaat het en wat met goue medaljes weggestap het vir hul eerste plekke in vier afdelings: Small Flag, Small Non-Prop, Small Mace en Small Baton. Van dié spanlede is tans afrigters van die twee skolespanne op Oudtshoorn.

Van Reede het voorts silwer gewen in ses afde­lings vir groepe (Flag Group, Pom Non, Baton, Small Flag, Small Pom Non, Small Baton) en drie afdelings vir Small Drill, (Squad, Display Elements), met twee derde plekke in Mace Group en Small Mace.

Hoërskool Oudtshoorn se trompoppies het silwer gewen in drie afdelings vir klein groepe (Flag, Pom, Mace) en een vir groepe (Baton). Hulle het voorts brons gewen in nege afdelings – een vir klein groepe (Baton), drie vir groepe (Flag, Pom, Mace) en vyf vir Small Drill (Leader, Sub leaders, Flags, Display, Overall). (Deur Liesel le Roux)