LIEFHEBBERS van Countrymusiek kan gerus Saterdag 5 November op hulle kalenders merk – dit is die dag wat die eerste Klein Karoo Country Kuier op die granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word.
Die vyf kunstenaars wat die dag saam met ’n professionele orkes gaan optree, is Leah, Chris Else, Johan Liebenberg, Mark Haze en Chloe Gold.
Volgens die organiseerder, Gerhard Meyer, is dit nie ’n gewone konsert nie, maar eerder ’n lekker kuier saam met vriende. Die sitplekke is by tafels en daar word ook ’n dansvloer spesiaal vir die konsert ingerig. Konsertgangers kan reeds van laatmiddag af by die kos- en drankstalletjies kuier.
Die rugbytoets tussen Suid-Afrika en Ierland sal om 17:30 op ’n grootskerm uitgesaai word en die konsert skop om 19:00 uur af met vier ure se grootste Country-treffers.
Die sanger en liedjieskrywer Chris Else het sy eerste kitaar op 13-jarige ouderdom gekry. Dié boorling van Mokopane (destyds Potgietersrus) het al verskeie Country-albums vrygestel. Hy het met Country-musiek grootgeword en onthou hoe hulle as gesin na die musiek van Jim Reeves en Neil Diamond geluister en saamgesing het.
Leah is ’n bekende gesig op televisie en het ook al haar lyf aktrise gehou. Haar eerste liefde is egter sing en sy beskou Laurika Rauch en Taylor Swift as haar grootste rolmodelle.
Johan Liebenberg is bekend as Suid-Afrika se eie Neil Diamond en hy het die land al platgetoer met sy Diamond-huldeblykkonsert. Hy het dié produksie al voorheen met groot sukses op Celebratio aangebied.
Die Idols-finaliste Mark Haze en Chloe Gold is die ander twee sangers wat die aand gehoor sal kan word.
Celebratio is sowat 30 km buite Oudtshoorn op die Ou Sementpad geleë. Die hekke maak die middag om 16:30 oop en daar is volop veilige parkering.
Kaartjies kos R280 en is beskikbaar by www.celebratio.co.za of by PostNet Oudtshoorn. Vir meer inligting kontak 082 802 7138.
1ste Klein Karoo Country Kuier eersdaags gehou
Leah, voormalige aanbieder van die televisiereeks Boer soek ‘n Vrou, keer terug plaas toe, maar dié keer is dit om te sing. Foto verskaf