BORGTOG is verlede Dinsdag (4 Oktober) in die Oudtshoorn Distrikshof geweier aan Charmele Witbooi (29) van Smartie Town op Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy sy ma met ’n byl doodgekap het.
Witbooi staan tereg op ’n klagte van moord op Shirley Witbooi (64), wie se bebloede lyk op Donderdag 1 September deur haar man, Karel, in hul huis in Sipho Kromastraat aangetref is.
Karel Witbooi is aan ’n rolstoel gebonde.
Landdros Stephanie Strydom het na die opsomming van die getuienis voor die hof gesê dit is in belang van geregtigheid dat Witbooi in aanhouding bly en die saak vir verdere ondersoek en ’n volledige verslag oor sy geestestoestand tot 13 Oktober uitgestel.
• Brian Carelse, Witbooi se Regshulp-prokureur, het die hof vroeër versoek om borgtog aan Witbooi toe te staan omdat hy nie ’n vlugrisiko is nie en daar geen getuienis voor die hof is dat hy enige van die staatsgetuies sal probeer intimideer nie. Hy staan ook as ’n eerste oortreder in die beskuldigdebank.
Witbooi se ouer broer en suster het getuig dat hul pa vrees dat sy seun hom ook leed sal aandoen indien hy vrygelaat word, en dat hul broer behandeling moet kry.
Hulle het verder getuig dat nie een van die beskuldigde se ander familielede vir hom bang is nie, maar dat daar wel alternatiewe blyplek vir hom beskikbaar is.
Volgens hulle is dit duidelik dat hul broer “nie homself was tydens die voorval nie”.
Hy het ’n paar dae voor die voorval nakend in die straat rondgeloop, in ’n vuur geduik en homself verbrand, en gesê dat daar duiwels in sy ma is wat haar gaan doodmaak.
Hy het ook gesê dat hy ’n profeet is.
Volgens ’n ander broer is hy nie daarvan bewus dat die beskuldigde ’n geestesprobleem het nie. Hy glo ook nie dat dit sy broer is wat sy ma doodgemaak het nie.
Volgens hom was die verhouding tussen sy broer en sy ma normaal, en het die beskuldigde baie vir sy ma omgegee.
’n Niggie van die beskuldigde het egter getuig dat hy beslis ’n geestesprobleem het en dringend hulp nodig het. (Deur Garnett Wicomb)