Gru-ongeluk op pad na
Dysselsdorp eis jong ma se lewe

’N JONG ma van die Groter Oudtshoorn het Donderdag (6 Oktober) naby Dysselsdorp gesterf toe ’n voertuig waarin sy ’n passasier was, die pad verlaat het.

Haar baba wat ses maande oud is, is na verneem word in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal, terwyl nog twee minderjariges per ambulans hospitaal toe geneem moes word.

Die oorledene, Gertruda Rebecca Nathan, was volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, slegs 23 jaar oud.

Volgens Michaels het die gru-ongeluk omstreeks 17:45 plaasgevind.

“Na bewering het die bestuurder van die voertuig beheer daaroor verloor waarna dit die pad verlaat het,” het sy gesê.

Michaels sê die Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, en daar word nog vasgestel of bewerings waar is dat die bestuurder onder die invloed van drank was.

Sy het bygevoeg dat die bestuurder se bloed wel vir alkohol getoets is.

In ’n ontstellende video wat deur ’n betroubare bron met Die Hoorn gedeel is, is dit duidelik dat die voertuig ’n massiewe slag opgedoen het, en heel moontlik gerol het.

Op die video kan die stemme van ontstelde mense gehoor word wat sê: “Tel asseblief net die kind op!” en “Daai arme babatjie!” terwyl iemand smeek terwyl die paramedici besig was om die huilende baba te ondersoek: “Vat net daai kind daar weg!”

Die baba het meters van die verfrommelde voer­tuig gelê met die liggaam van iemand langs die voertuig. ’n Klein seuntjie staan naby en huil terwyl ’n man, moontlik die bestuurder, by die voors­te passasiersvenster probeer uitklim. (Deur Stefan Skapie Goosen)