By hangbrug deur mans met pangas beroof

’n Skermgreep van ’n video van twee mans op die parkeerterrein van Checkers op Oudts­hoorn, een met ’n panga gewapen. Video verskaf

’N JONG Oudtshoorniet wat verlede Donderdag (6 Oktober) omstreeks 18:00 by die hangbrug deur drie mans met pangas van sy selfoon en helder­pienk rugsak beroof is, laat die kollig val op ’n toename in voorvalle van roof op die dorp.

Die mans het in die rigting van die Grobbelaars­rivier weggehardloop en ten spyte daarvan dat die polisie gou op toneel was en die strate in die om­gewing gefynkam het, het hulle weggekom.

Die polisie ondersoek die saak.

Roof tans ’n probleem op Oudtshoorn
Die Oudtshoorn Polisie het verlede week in ’n be­rig oor misdaadvoorkoming in Die Hoorn aan­gedui dat roof tans ’n probleem op die dorp is, en mense gemaan om selfone weg te bêre as hulle op straat is en ook nie met groot bedrae kontant rond te loop nie.

Moet selfs nie jou selfoon uithaal as ’n vreem­deling jou vra hoe laat dit is nie.

Die dra van pangas is klaarblyklik ook ’n groeiende probleem.

’n Inwoner van die dorp, Ruan Niemann, het ’n video aan Die Hoorn gestuur van ’n onderonsie tus­sen twee jong mans – een van hulle gewapen met ’n panga – die middag van 23 September op die Checkers-parkeerterrein. In die video kap een van hulle verskeie kere met ’n panga na die ander man.

Niemann sê daar was ten tye van die voorval oral vroue en kinders op die parkeerterrein.

Dié twee jong mans, na bewering albei “karwagte”, is deur ’n sekuriteitsmaatskappy en die polisie van die toneel verwyder.

Baie vra vir pro-aktiewe optrede
Talle inwoners het in reaksie op ’n inskrywing op Die Hoorn se Facebook-blad oor die voorval by die hangbrug gevra vir pro-aktiewe optrede en dat inwoners self ook betrokke moet raak by buurt­waggroepe en samewerking met die polisie en ander instansies. (Deur Liesel le Roux)