BOPLAAS FAMILIE WINGERDE in Calitzdorp se whisky het die afgelope jare verskeie toppryse gewen, en is meer onlangs benoem as die Top Spirit vir 2020 deur “drinks influencer” en whisky-kenner, Fred Hart (@uncorkedSA).
Onder meer is Boplaas se whisky ook in 2019 aangewys as die Beste Suid-Afrikaanse whisky by die gesogte Michelangelo International Wine and Spirit Awards, en dit het ook verskeie ander toekennings by plaaslike en internasionale wyn-skoue ingepalm.
Daniel Nel van Boplaas sê hul geheim vir hier-die top-kwaliteit whisky is nie net die feit dat hulle die beste Suid-Afrikaanse mielies in die verstokingsproses gebruik, en ’n moderne ketel daarby nie, maar ook die vate waarin die whisky verouder word.
Die whisky, sê hy, word eers in “ex-bourbon” vate vir vyf jaar verouder, waarna dit afgerond word vir een tot twee jaar in Boplaas se kampioen-portvate.
Die Klein Karoo se klimaat is volgens Daniel ook uitstekend vir die veroudering van spirits as gevolg van die lae humiditeit, en die “angel’s share” is aansienlik hoër as dié in Skotland of Ierland.
Die “angel’s share” is die gedeelte van die alkohol wat verdamp deur die vate en dit maak die whisky sagter in ’n korter verouderingstydperk.
Daniel is ook ’n sesde-generasie stoker by Boplaas, en sê daar is nog baie opwindende nuwe whisky-produkte oppad.
Boplaas se stoking-geskiedenis het reeds in 1880 begin waar Daniel se agter-oupagrootjie brandewyn uitgevoer het Engeland toe. In daardie tyd het hulle die brandewyn in eikehoutvaatjies op ossewaens geneem Worcester toe, waarna dit na Kaapstad se hawe met die trein geneem is, en toe per boot London toe.
’n Paar jaar gelede het Boplaas ’n nuwe koper multikolom-stoker aangekoop en dit Falcon genoem. Hierin stook hul whisky en jenewer, of gin.
Boplaas whisky Top Spirit vir 2020
Daniel Nel, sesde-generasie stoker by Boplaas. (Foto verskaf)