’N JONG man van die Kliplokasie, buite Volmoed in die Oudtshoorn-distrik, wat aan statutêre verkragting skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof na ’n pleit- en vonnisooreekoms ’n opgeskorte vonnis opgelê en onder huisarres geplaas.
Die 20-jarige Duwayne Jansen sê in sy pleitverduideliking dat hy die 15-jarige meisie in Oktober 2019 ontmoet het en hulle tot nou toe in ’n verhouding is.
Hy het met toestemming geslagsgemeenskap met haar gehad waarna sy swanger geword het. Hy het erken dat hy geweet het hoe oud sy is en dat hy verkeerd opgetree het.
Die staat het die pleit- en vonnisooreenkoms aanvaar en en al die partye was tevrede daarmee.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging beklemtoon dat niemand met ’n kind onder 16 jaar geslagsgemeenskap mag hê nie, al is dit ook met toestemming.
Jansen is soos ooreengekom gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook tot twee jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels dat hy 24-uur per dag onder huisarres vir die volle tydperk, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, moet wees. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms.
Voorts het die hof gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word terwyl hy ook onbevoeg verklaar is om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)