Daniel Nel van Boplaas besig om mengeldrankies te maak. Foto verskaf
SUID-AFRIKA se eerste port-infusie-gin is pas deur die bekende Calitzdorpse wynkelder, Boplaas Familiewingerde, vrygestel.
Die Boplaas Port-Infused Gin het ’n pienk skynsel en intense aromas van bos-gemmer, fyn rooibessies en lemoenskil.
Boplaas het reeds ’n internasionale reputasie vir sy wyne van Portugese druifvariëteite wat in die Calitzdorp-omgewing floreer. Dié plaas het al tien keer sedert 1986 die trofee vir SA Kampioen Port-trofee ontvang.
Boplaas se eerste handgemaakte spiritus dateer terug na 1880 toe potketel-brandewyn hier gemaak is. Die eerste besending vate is per ossewa en stoomtrein na die Kaapstad-hawe versend, waarvandaan dit na Londen gegaan het. Nadat distilleringlisensies in die vroeë 1920’s teruggetrek is, was Boplaas se koperpotketel bykans 70 jaar in onbruik en is dit eers weer in 1989 ingespan.
Vyf jaar later het Boplaas die land se eerste landgoed-brandewyn vrygestel, ’n spiritus wat gesertifiseer is dat dit eksklusief van druiwe op die plaas gemaak en ook daar verouder is. Die historiese resultaat was die bekroonde Boplaas 5 Year Old Potstill Estate Brandy, wat die weg gebaan het vir ’n uitgebreide portefeulje van keurig-vervaardigde klein hoeveelhede brandewyn, gin en whisky.
Daniel Nel, die jongste familielid wat by die besigheid aangesluit het, het nou die mantel as distilleerder aangetrek en ’n nuwe energie gebring wat gelei het tot Suid-Afrika se eerste port-infusie-gin.
Boplaas instaleer tans ’n nuwe stookketel, genaamd The Falcon, wat verdere baanbrekerswerk ten opsigte van die kwaliteit en diversiteit van Boplaas se gedistilleeerde spiritus na vore sal bring.
Boplaas se brandewyne, whisky en gins is by die kelder beskikbaar, by uitgesoekte winkels landwyd of aanlyn.