Vrou sterf nadat motor haar naby Grotte tref

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 36-jarige vrou Saterdagmiddag omstreeks 16:00 naby die Kango Grotte-pad omgery is.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Anna Coetzee na bewering in die pad naby Boomplaas gestap – sowat 25 km vanaf Oudtshoorn op die pad vanaf die Kango Grotte na Matjiesrivier. Sy was van die Nooitgedacht-omgewing.

“Die bestuurder van die wit Chevrolet Spark het uitgeswaai, maar steeds met die voetganger gebots,” sê Visser.
Dit is nie bevestig of sy op die toneel oorlede is nie.

Volgens Visser mag die bestuurder, wat van Oudtshoorn afkomstig is, se naam nog nie bekend gemaak word nie. Sodra die saak klaar ondersoek is, sal ’n besluit geneem word of hy aangekla moet word of nie.