Regering bewillig fondse vir Blossoms maar geen vir nog ’n dam

Deur Liesel le Roux
DIE toekoms van waterbronne vir Oudts­hoorn was verlede Vrydag by ’n spesiale raadsvergadering op die dorp in die kollig.

Die raad het eenparig goedkeuring verleen dat boorwerk by die Blossoms-diepwaterprojek moet voortgaan nadat rege­­- rings­fondse van R20 miljoen vir 2018/ 2019 en R40 miljoen vir 2019/20 vir dié projek beskikbaar gestel is.

Die munisipaliteit kon egter nie toestemming by die betrokke owerhede verkry dat ’n gedeelte van dié fondse vir die bou van ’n tweede dam in die Swartberge gebruik mag word nie.

Die befondsing vir die boorwerk by Blossoms is twee jaar gelede, toe Oudts­hoorn onder administrasie was, deur die Departement Water en Sanitasie (DWS) gestaak.

Dit was duidelik uit die raadsagenda dat daar kommer by die munisipaliteit is in watter mate Blossoms eendag in die dorp se waterbehoeftes sal kan voorsien.

Die projek is al langer as 20 jaar aan die gang en volgens die agenda sal daar eers oor sowat vyf jaar bepaal kan word of die opbrengs en die waterdruk voldoende sal wees, waarna ’n 23 km-pyplyn ook nog na Oudtshoorn gebou sal moet word.

Die raad het in die lig hiervan ook eenparig besluit om ’n vergadering tussen die munisipaliteit, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, en die minister van die Departement Water en Sanitasie te belê om addisionele fondse aan te vra vir ’n gelyklopende grootmaatwaterprojek.

Dié projek sal bestaan uit die konstruksie van nog ’n dam in die Swartberge asook die verhoging van die wal van die Raubenheimerdam. Die raad het besluit om so gou moontlik ’n konsultant aan te stel om ’n voorlegging oor die belang­rikheid van so ’n addisionele dam aan Bredell voor te lê.

Dié inisiatief om ’n tweede dam vir Oudtshoorn te bou en die wal van die Raubenheimerdam te verhoog, sal slegs kan realiseer indien die DWS en die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering die groen lig daarvoor gee.