2018 Klein Karoo Jongwynskou

Verteenwoordigers van die wynkelders wat trofees by vanjaar se Klein Karoo Jongwynskou gewen het, is van links Christiaan de Koker (Montagu Wynkelder), Robert Windvogel (Montagu Wynkelder), Hermias Vollgraaff (Montagu Wynkelder), Louis van der Riet (De Krans Wynkelder) en Danie van der Westhuizen (Calitzdorp Wynkelder). Foto: Schalk le Roux

Montagu presteer weer uitsonderlik

Die 2018 Klein Karoo Streeksjongwynskou se uitslae is op Donderdag, 16 Augustus, op Barrydale bekend gemaak.
Montagu Wynkelder, wat vir die sesde jaar ná mekaar as die Kampioen Produsentekelder aangewys is, het ook andersins uitstekend presteer by vanjaar se Jongwynskou.

’n Chenin Blanc/Chardonnayversnit van die kelder is as die Kampioen Droë Witwyn aangewys. Hulle het ook die Reserwe Kampioen Droë Wit-wyn gelewer.

Voorts het hulle die Kampioen en Reserwe Kampioen Chenin Blanc, die Kampioen en Reserwe Kampioen Natuurlike Soet Tafelwyn, die Kampioen Ruby Cabernet, die Kampioen Shiraz asook die Reserwe Kampioen Muskaat Versterkte Wyn vir die Jongwynskou ingeskryf.

Calitzdorp Wynkelder is as die Reserwe Kampioen Produsentekelder aangewys. Hulle het ook die Kampioen Droë Rooi Tafelwyn, ’n Tinta Barocca, opgelewer.

De Krans Wynkelder is as die Kampioen Privaatkelder aangewys. Hulle het ook die Groot Kampioenwyn vir die skou – die Kampioen Nie-Muskaat Versterkte Wyn (toegeken vir ’n Kaapse Wynoes) ingeskryf, tesame met die Reserwe Kampioen Droë

Rooi Tafelwyn en die Reserwe Kampioen Nie-Muskaat Versterkte Wyn.

Boplaas Family Vineyards is 2018 se Reserwe Kampioen Privaatkelder. Hulle het ook die Reserwe Groot Kampioenwyn – die Kampioen Mus-kaat Versterkte Wyn ingeskryf.

Vind meer uit oor die streek en sy wyne en besoek ons by www.kleinkaroowines.co.za.