Stephan Viljoen, onderwyser van Laerskool Wesbank, nadat sy linkerbeen geamputeer is. (Foto verskaf.)
Deur Angelique Erasmus
’N GEWILDE jong onderwyser van die Laerskool Wesbank, Stephan Viljoen (30), is een van daardie mense wat deur sy positiwiteit en wilskrag ander rondom hom inspireer.
Viljoen se linkervoet is verlede Woensdag net onder sy knie geamputeer nadat hy sowat agt jaar gelede ligamente tydens ’n rugbywedstryd op univieriteit beseer het. En hoewel dokters aan hom gesê het dat hy vandeesweek sou kon begin rondbeweeg, het hy reeds verlede Donderdag uit die bed opgestaan.
Vandeesweek was hy al fluks besig om te oefen en toon ’n video wat hy op Facebook gepos het, hoe hy al met oorgawe opstote doen?
Viljoen is Saterdag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.
Viljoen sê na sy besering agt jaar gelede het hy ’n operasie ondergaan. Kort daarna het hy sy loopbaan as onderwyser by
Laerskool Wesbank begin waar hy ook sport afrig en gereeld as rugbyskeids-regter op die veld te sien was.
Tydens so ’n wedstyd waar hy die fluitjie geblaas het, het hy skeef getrap en dieselfde voet se ligamente weer beseer. Hy het aanvanklik gedink dat dit nie so ernstig was nie, maar toe mense vir hom begin sê het hy lyk “geel en siek” is hy dokter toe.
Daar is vasgestel hy het inwendige bloeding in sy enkel.
Die wond is skoongemaak en uitgespoel, en hy is met medikasie behandel nadat vasgestel is hy het waarskynlik tydens sy operasie ’n infeksie in sy ledemaat opgedoen wat die kraakbeen aangeval het.
Die pyn in sy enkel het nie weggegaan nie, sê Viljoen.
Hy moes die afgelope jare nog twee enkelope-rasies ondergaan waartydens onder meer skroewe in sy enkel geplaas is.
Die operasies was nie suksesvol nie en sy pyn en ongerief het voortgeduur.
’n Ortopediese spesialis en neuroloog het ná talle toetse gesê daar is twee opsies: opereer en bou die enkel op met been vanuit sy heup met geen waarborg dat sy enkel sal herstel nie, of amputeer ’n gedeelte van die been.
Viljoen het op die amputasie besluit.
Hy het vandeesweek gesê dat hy en sy vrou, Jaquelene, baie dankbaar is vir die wonderlike ondersteuning en bystand van die mense van Oudts-hoorn, vir die Here se genade dat die proses so vlot verloop het, en vir die briefies wat sy leerders aan hom gestuur het.
“Ek mis my kinders baie,” het Viljoen gesê.