Baron van Reedestraat – die Goue Myl

Bekend ver buite dorpsgrense

Bo: Baron van Reedestraat in feesgewaad – soos dit elke jaarliks tydens kunstefeestyd lyk. Foto: Hans van der Veen

BARON VAN REEDESTRAAT, Oudtshoorn se eie “goue myl”, is wyd buite die dorp se grense bekend. Dit is nie net die begin van die roete na die wêreldbekende Kango Grotte en die tuiste van hotelle, gastehuise, restaurante en verskeie besighede nie, maar ook bekend vir sy pragtige ou geboue.

Boonop is Baron van Reedestraat dié straat wat jaarliks opgetooi word tydens die KKNK en was dit ook al dikwels die begin of eindpunt van groot fietswedrenne asook die jaarlikse straatmyl in Desember.

Baron van Reedestraat, in die ou dae bekend as Koninginstraat, huisves ’n hele aantal historiese geboue, met van die bekendstes die CP Nel Museum, die Queen’s Hotel, die Prince Vintcent-gebou op die hoek met Kerkstraat, Mimosa Lodge – die eerste predikant van die NG Moederkerk se woning en die Joodse si­nagoge.

Ander ou geboue wat ’n uniueke karakter aan dié straat verleen, is onder meer Montague House, die Presbiteriaanse Kerk, St Jude’s-kompleks, Gott­landhuis, Oakdene Gastehuis en die ou Oudts­hoorn Gevangenisgebou.

Die huis in Baron van Reedestraat 146, wat in die 1860’s gebou is, het aan mej Hudson, ’n goewernante van Pauline Smith, behoort. Smith was veral bekend vir haar boek Story of an African Farm. Die huis op die hoek van Baron van Reede- en Victoriastraat, het al verskeie besighede gehuisves, onder meer ook die restaurant Bello Cibo.

Ou foto’s bied ’n blik op die Baron van Reedestraat van vroeër jare