Militêre basis kry nuwe tandarts

Vonnie Kamfer is vanaf Ja­nuarie 2018 die militêre basis op Oudtshoorn se nuwe tand­arts. Foto verskaf

Vonnie Kamfer is vanaf Ja­nuarie 2018 die militêre basis op Oudtshoorn se nuwe tand­arts. Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
OUDTSHOORN sal van Januarie volgende jaar af ’n nuwe boorling in die dorp hê – en sy sal die Suid-Afrikaanse Infanterieskool op Oudtshoorn se tandarts wees!

Vonnie Kamfer (23) is oorspronklik van Mosselbaai en het matriek aan die Hoërskool Punt voltooi.

Sy voltooi vanjaar haar studie aan die Universiteit van die Wes-Kaap se fakulteit Tandeheelkunde by die Tygerberg Hospitaal.

Sy sê die tandheelkunde-studente kon vir drie keuses aansoek doen om hul gemeenskapsdiens te verrig.
“Die militêre basis op Oudtshoorn was my eerste keuse. Ek is baie bevoorreg om daar geplaas te word en sien baie uit na die jaar wat voorlê.”

Sy sê sy is ’n klein-dorpie-mens van geaardheid en glo dat Oudtshoorn “so ’n lekker plek is”.
En hoewel tandheelkunde aanvanklik nie haar eerste keuse vir ’n beroep was nie, het sy haar studie uiteindelik baie geniet.

“Ek het veral die kosmetiese deel daarvan geniet. Ek sal graag eendag in daardie spesifieke veld wil spesialiseer.”