
So lyk die herstelde graf van Johann Meyer nou nadat die SA Weermagvereniging (SAWV) en die Oudtshoorn Moths ’n nuwe soldaatbeeld laat maak het. By die graf staan van links Jaco Steenberg, voorsitter die Swartberg-sektor van die SAWV, en Heinrich Smit, old bill van die Moths, en Tjaart van der Walt, wee bill van die Moths. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE graf van Johann Meyer (20), ’n jong Oudtshoorniet wat in 1987 in die grensoorlog in Angola gesterf het, is uiteindelik herstel met ’n nuwe beeld wat op sy graf pryk.
’n Soldaatbeeldjie op Meyer se graf in die Oudtshoorn Begraafplaas is vroeg verlede jaar afgebreek en net daar langs die graf gelos.
Die Oudtshoorn Moths en die Swartberg-sektor van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) het besluit om die graf te herstel. Hulle het ’n bedrag van R11 500 daarvoor ingesamel. Jaco van Niekerk, ’n beeldhouer van Meyerton, het die nuwe beeldjie gemaak.
Johann, wat lid was van 32 Bataljon, het volgens die webtuistes www.southafricawargraves.org en www.warbooks.co.za op 25 November 1987 in Suid-Oos Angola gesterf toe ’n ratel tydens ’n geveg deur ’n mortier getref is.
Johann se twee broers, Werner en Jaco, woon op onderskeidelik Knysna en Mosselbaai. Sy ouers, Koos en Felicity, is albei oorlede.
• Jaco Steenberg, voorsitter die Swartberg-sektor van die SAWV, het die volgende persone en instansies bedank vir hul bydraes: Die Hoorn; die Halafaya Pass Shellhole; die SAWV Swartberg Sektor 1; Jaco van Niekerk van Gauteng vir die maak van die beeld; Michael Jansen van Rensburg wat die koerierskoste van die beeld na Oudtshoorn betaal het; Wessels en Kie Grafsteenwerke vir die opsit van die beeld; en die talle naamlose donateurs vir die R11 500.