Rukwinde van 70 km/h vir Klein Karoo voorspel

Foto: Snow Report SA op Facebook

Foto: Snow Report SA op Facebook


DIE Klein Karoo gaan Woensdag begin afkoel met sterk winde en rukwinde wat voorspel word.
Die verwagte sterk kouefront wat Kaapstad na verwagting vanaand sal tref met gepaardgaande swaar reën, rowwe seetoestande en stormwinde sal die Klein Karoo Woensdag bereik.
Volgens Wayne Venter van die SA Weerdiens is die grootste bekommernis vir die Klein Karoo die sterk winde met gepaardgaande rukwinde. Winde van 45 to 65 km/h met rukwinde van tot 70 km/h word Woensdag verwag. Swaar reën word egter nie vir die gebied voorspel nie.
“Daar is ook ’n moontlikheid van ligte sneeu op die pieke van die Swartberge Woensdag laataand of oornag met ’n kans op reënbuie vanaf Woensdagmiddag op Oudtshoorn.
“In die stadium lyk die reenval nie baie goed nie, maar met so ’n stelsel kan ’n mens nie reënval buite rekening laat nie. Daar is nog onsekerheid oor die reënval in die Klein Karoo as gevolg van die aflandige vloei.”
Die weervoorspelling vir Oudtshoorn in hierdie stadium is:
Woensdag, 7 Junie 2017: Gedeeltelik bewolk met ’n moontlikheid van reënbuie in die middag en aand of oornag. Min/Maks: 12/20. Wind: Sterk tot stormsterk noordwes to wes (50 to 65km/h, rukwinde tot 70 km/h).
Donderdag, 8 Junie 2017: Gedeeltelik bewolk, koud en winderig met ’n moontlikheid van ligte reënbuie in die oggend. Min/Maks: 04/14. Wind: Matig tot fris wes tot suidwes (20 tot 30 km/h).