MET die huidige droogte in die streek moet elke enkele inwoner poog om water te spaar waar ons kan.
Sodra die Raubenheimerdam en Melvilledam se gesamentlike vlak onder 30% sak, sal almal in die Groter Oudtshoorn boonop baie meer vir water betaal. Ongelukkig kan nie almal opgaartenks bekos-tig nie om reënwater mee op te vang om dit vir jou tuin te gebruik. En in elk geval is reën erg skaars. So, hoe gemaak om jou deel by te dra?
’n Paar wenke wat nie geld kos nie
• Stort eerder as bad.
• Gebruik ’n emmer of kom om stortwater op te vang. Die water kan weer gebruik word om plante nat te lei of om die toilet te spoel.
• Hoop maar die skottelgoed op en was wanneer nodig. Moenie elke koppie uitspoel nie. Los dit eerder totdat die wasbak vol vuil skottelgoed is.
• Moenie die kraan laat loop as jy jou tande borsel of skeer nie.
• Sit iets in die toiletbak wat water sal verplaas, soos byvoorbeeld ’n rivierklip. So sal jy die hoeveelheid water wat jy gebruik om die toilet te spoel verminder.
• Onthou die Engelse rympie: “If it’s yellow let it mellow; if it’s brown flush it down” in jou toiletroetine.
• Vang die voorwater (die water wat loop voordat die warm water kom) op. Gebruik dit in jou tuin.
• Wag totdat jy ’n vol vrag wasgoed het voordat jy die wasmasjien gebruik. Dieselfde geld vir jou skottelgoedwasmasjien.
• Gebruik die water waarin groente of pasta gekook is, om plante mee nat te maak. Laat dit net eers afkoel.
• Hou vir jou water in die yskas eerder as om die kraan te laat loop tot die koue water deurkom. Veral van toepassing in die somer.
• Gebruik eerder ’n gieter pleks van ’n tuinslang om jou tuin nat te maak.
• Maak enige lekkasies reg.
• Maak jou storttyd minder. Sit ’n liedjie aan terwyl jy stort en as die liedjie klaar is, moet jy uit-klim. (Hoe korter die liedjie, hoe beter!)
Wenke wat min geld kos
• Koppel ’n dik swart besproeiingspyp aan die afvoerpyp van jou stort en wasmasjien en laat dit na jou grasperk/tuin toe loop. Jy kan dit ook gebruik om jou swembad aan te vul (die water gaan net melkerig lyk).
• Skaf gebruikte konkas aan en vang reënwater op en gebruik dit in jou tuin.
• Gebruik boombas of houtsplinters om beddings te bedek en te keer dat die grond vinnig vog verloor.
• Vervang die stortkop met ’n waterbesparingskop.
• Verander jou besproeiingstelsel na drupbesproeiing.
Stuur vir ons jou wenke!
Ons wil lesers nooi om vir ons goeie waterbesparingswenke te stuur na 073 217 7089 of na ads@hoorn.co.za.