Waterkrisis op Dysselsdorp en plase oos van Oudtshoorn

Water

DYSSELSDORP se inwoners sit bykans sonder water nadat ‘n pyp  vanoggend gebreek het en die Dysselsdorp Watersuiweringswerke oorstroom is. Ernstige skade is deur die oorstroming aan die elektriese toerusting binne die pompstasie aangerig.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het die hooflynpyp voor die pompstasie as gevolg van waterdruk gebreek.

“Ons  is besig om reëlings te tref om die pyp oop te grawe. Dit kom daarop neer dat daar nie water in die reservoirs gepomp word nie. Mense word gevra om water spaarsamig gebruik.

“Die enigste water op Dysselsdorp is die water wat tans in die reservoirs is. Die munisipaliteit skenk dringend aandag aan die probleem.”

Mangqwengqwe sê daar word tans gepoog om so gou moontlik die nodige onderdele in die hande te kry sodat herstelwerk so gou moontlik kan begin.

Mangqwengqwe het ook boere aan die oostekant van Oudtshoorn versoek om water spaarsaam te gebruik omdat dié krisis hulle ook raak.