KKNK-produksies wen vyf fiëstas!

 

Rhodé Snyman met die Bloustoel-toekenning.

Rhodé Snyman met die Bloustoel-toekenning.

“DIT is ’n groot voorreg om vanjaar die Fiëstas se Blou Stoel vir die KKNK se eerste Uitkampteater-inisiatief te ontvang. Ons is geweldig trots op al die kreatiewe skeppers wat ’n rol hierin gespeel het en is dankbaar vir die ondersteuning van die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria, waarsonder dié inisiatief nie moontlik sou wees nie”, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK.

Snyman sê sy hoop hierdie Fiësta moedig nóg meer feesgangers aan om vanjaar Uitkampteater te beleef. “Die aanbod is groter, met meer kunsvorme en genres en ook verskeie stukke vir kinders, die perfekte manier om hulle aan teater bekend te stel.”

Naudé van der Merwe, sameroeper van die Fiëstapaneel, sê die Blou Stoel word jaarliks toegeken aan ’n vertolking, produksie, kuns-inisiatief of projek wat by ’n fees te sien was en nie noodwendig in enige van die bestaande kategorieë van die Fiëstas pas nie. “Dit kan enigiets wees wat die paneel se aandag trek.”

Volgens hom het die paneel in 2016 onomwonde saamgestem dat een gebeurtenis vir almal uitgestaan het. “Dit was nie net innoverend nie, maar het ook ’n platform geskep vir gevestigde kunstenaars, nuwe stemme en ook internasionale talent om oorspronklike werk te skep. Dit is geïnspireer deur Nederland se Tentjestheater, maar het hier ’n eg-Suid-Afrikaanse gevoel gekry. Die kwaliteit was verbysterend en was verantwoordelik vir die mees opwindende teaterervaring van die jaar.”

“Die Blou Stoel is wonderlike aanmoediging vir Uitkampteater, wat ten doel het om ’n eksperimentele speelgrond vir gevestigde en nuwe talent te wees. Die KKNK is verbind daartoe om innoverende platforms soos hierdie te skep waar meestal onbekende – maar hoogs talentvolle – kunstenaars aan gehore bekend gestel kan word. Dit is ’n projek waarvan die bedryf hopelik nog baie vrugte in die toekoms sal kan pluk,” sê Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK.

Marisa Gerards, Ambassadeur van Nederland, sê Uitkampteater is ’n idee wat die KKNK in 2016 na Suid-Afrika gebring het, geskoei op Tentjestheater uit Nederland. “Die Blou Stoel is ’n bewys van moontlikhede wat kan ontstaan uit samewerking tussen die twee lande. Ons sien baie uit na die tweede Uitkampteater by die KKNK en sien die projek as ’n perfekte voorbeeld van ’n tasbare samewerking tussen Suid-Afrika en Nederland. Ons is bly Uitkampteater, wat klein interaktiewe toneelspel is, word só goed deur Suid-Afrika ontvang en ons wil vir die KKNK baie dankie sê dat hulle hierdie projek ’n moontlikheid gemaak het”, sê sy.

Uitkampteater het ’n tweede Fiësta ontvang, met Faith Kinniar wat as beste opkomende kunstenaar vir haar rol in Valencia beloon is.

Die KKNK se musiekblyspel Heidi, het ook twee Fiëstas ontvang. Heidi is bekroon as beste musiekgedrewe produksie en Francois Toerien en Kosie Smit vir dié produksie se stelontwerp. “Om ’n musiekblyspel van dié skaal aan te pak, wat moet toer en binne feessisteme funksioneer, is ’n groot uitdaging. Dit is gerealiseer deur ’n kreatiewe span mense – agter die skerms en op die verhoog – wat met oorgawe en absolute fokus die verhaal op die beste moontlike manier wou vertel. Die eindproduk is hoë kwaliteit familievermaak. Ons is baie trots op die produksie en salueer die talent en harde werk van elkeen wat hierby betrokke was. Die genot wat almal betrokke en die gehore uit die produksie put, is die uiteindelike prys, maar die erkenning wat die produksie ontvang het, is ’n ongelooflike kersie op die koek,” sê Theart. Heidi is moontlik gemaak deur Die Dagbreek Trust.

“Wie sou kon dink dat die eerste probeerslag om ’n musiekblyspel aan te pak in ’n toekenning sou eindig? Ek skryf dit toe aan mense wat weet hoe om te netwerk, om die span bo die individu te stel en seker te maak dat almal na die dieselfde boei toe roei. Ál die spelers het die gees verryk en ek is baie bly om deel van iets só wonderlik te kon wees,” sê Mynie Grové, wat oorspronklike musiek vir dié produksie geskryf het.

Dawid Minnaar het die Fiësta as beste manlike byspeler vir sy rol in Die huis van Bernarda Alba ontvang. Dié produksie is ondersteun deur die Spaanse Ambassade in Suid-Afrika. Beide Heidi en Die huis van Bernard Alba is deur Kunste Onbeperk vervaardig en is by die US Woordfees te sien. Charl du Plessis se Boogie Woogie Big Band het die Fiësta vir beste musiekgedrewe produksie (arena) ontvang.

Die kykNET Fiëstas is verlede Donderdag, 23 Februarie, in die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad oorhandig en regstreeks op kykNET uitgesaai.

Die KKNK se volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600. Vanjaar se feesdatums val binne die nasionale skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek.