Verskeie stoprypunte tussen O’hoorn en George

Die gebied tussen Oudtshoorn en George waar paaie tans opgegradeer word.

Deur Liesel le Roux
PADGEBRUIKERS  sal vir die grootste deel van vanjaar geduldig moet wees wanneer hulle tussen Oudtshoorn en George reis, omdat verskeie stop­rypunte vir die grootste deel van die jaar verkeer sal beheer op die gedeelte van die N12 wat tans deur die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke opgegradeer word.

Dié gedeelte van die N12 strek van die T-aan-sluiting by Holgate oor 16,5 km tot naby die haarnaalddraai naby Oudtshoorn.

Die herstel van die pad en bou van ses hulpbane wat verbysteek sal vergemaklik, sal na verwagting dié besige roete tussen Oudtshoorn en George baie veiliger maak.

Volgens ’n verklaring van die departement kan wagtyd by stoprypunte tot 15 minute duur. Van die stoprypunte geld 24 uur van die dag en ander slegs bedags.

Die projek sluit ook die opgradering van 6,7 km van die pad tussen Holgate en Uniondale in.
Werk aan beide paaie behels herseëling van die pad, herstel van die padskouer asook algemene onderhoud van strukture en die bestaande sypaadjies. Werk aan die eerste hulpbaan skop in Januarie af en aan die tweede hulpbaan middel Februarie.

Stoprypunte sal tus­sen Februarie en Mei ook bedags op die pad tussen Holgate en Uniondale geld.
Volgens die departement behoort die projek van R55 miljoen einde 2019 voltooi te wees.
Die N12, wat laas in 2003 opgegradeer is, is ’n belangrike noord-suidroete tussen Oudts­hoorn en George.