
Die Hoorn het vanmiddag bevestiging by die Oudtshoorn Polisie gekry dat ‘n tweede vrou na vore gekom en ‘n verklaring afgelê het waarby ‘n pastoor betrek word wat vroeër die week in hegtenis geneem is. Die tweede vrou beweer ook in haar verklaring dat sy deur die pastoor verkrag is.
Die 58-jarige pastoor is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ‘n eerste klaagster na vore gekom het. Hy het Woensdag in die hof verskyn in verband met vyf klagtes – drie van onsedelike aanranding en twee van verkragting – wat na bewering in September 2003 plaasgevind het toe die klaagster nog minderjarig was.
Die tweede klaagster se verklaring sal volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, aan die staatsaanklaer voorgelê word wat sal besluit of dit by die huidige dosier gevoeg gaan word en of nog ‘n dossier geopen sal word.
Die pastoor is tans in aanhouding en sal Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn vir ‘n borgaansoek.