’n Mobiele kitsbank is sedert Dinsdagmiddag beskikbaar gestel by die Standard Bank op De Rust nadat die bank, die enigste op die dorp, gesluit is en die kitsbank gebreek het.
Foto: Niekie Eksteen
Deur Angelique Erasmus
DE RUST se enigste bank is klaarblyklik een van die 91 takke van Standard Bank landwyd wat vanjaar permanent gesluit gaan word.
En dit wil voorkom of die toenemende gebruik van tegnologie om banksake te doen, die oorsaak hiervan is.
Ross Linstram, kommunikasiebeampte vir Standard Bank, sê egter hy kan in dié stadium nie meer inligting oor die toekoms van die bank op De Rust verskaf nie. “Ons is steeds besig met die konsultasieproses, en kan ook nie ’n datum gee wanneer ’n antwoord beskikbaar sal wees nie.”
Die bank is reeds twee weke gesluit. Dit was voorheen volgens Linstram twee dae per week oop met werknemers van Oudtshoorn se Standard Bank wat vir die twee dae daar gewerk het.
Daar moet volgens Linstram nog eers met verskeie rolspelers gepraat word, onder meer die eienaars van geboue, voordat ’n finale antwoord gegee sal kan word.
Luidens ’n mediaverklaring van Standard Bank het “die behoeftes van kliënte baie verander en streef die bank daarna om daarmee saam te verander volgens hul kliënte se behoeftes en met tegnologie wat oorneem.”
Sowat 1 200 poste kan moontlik in gedrang kom, maar die moontlikheid bestaan dat baie van die afgeskafde poste moontlik in nuwe poste omskep kan word.
Mobiele kitsbank sedert Dinsdag
Om De Rusters se banktoegang verder te bemoeilik, was die kitsbank ook vir meer as 10 dae buite werking. Linstram was nie Dinsdag bewus van die probleem toe Die Hoorn met hom gepraat het nie, en het onmiddellik aandag aan die probleem geskenk.
’n Mobiele kitsbank vir kliënte is reeds Dinsdagmiddag beskikbaar gestel.
Linstram het namens Standard Bank kliënte verskoning gevra vir dié ongerief.