Straatnaamverandering: Munisipaliteit antwoord

Die burgemeester en munisipale bestuurder van die Groter Oudts­hoorn het die afgelope week soos volg gereageer op navrae van Die Hoorn oor die voorgestelde naams­verandering van Voortrek­ker­weg na Nelson Mandela Bou­levard en die  openbare deelna­meproses wat daarop sal volg.

STRATE in DA-beheerde munisipaliteite is al meermale na oud-pres Nelson Mandela vernoem, sê die burgemeester van die Groter Oudts­hoorn, Colan Sylvester.

Sylvester wys daarop dat Kaapstad in 2011 die Oostelike Boulevard herdoop het na Nelson Mandela Boulevard. Die George Munisipaliteit het in 2014 Albertstraat en Sandkraalweg na Nelson Mandela Boulevard verander. Die Drakenstein Munisipaliteit is ook besig met ’n proses om ’n straat na Nelson Mandela te vernoem.

“Die nalatenskap van Nelson Mandela is een wat waarlik aan almal in Suid-Afrika behoort,” sê Sylvester. “Om Madiba se nalatenskap deur die voorgestelde naamverandering te ver­eer, erken ons sy beginsels van menswaardigheid, gelykheid, mense­regte, nie-rassigheid, nie-seksisme, die oppergesag van die Grondwet en die soewereiniteit van die reg wat die DA vurig ondersteun.

“Daar is baie gesê sedert die voor­stel vir ’n naamsverandering in die laaste raadsvergadering bespreek is. Alhoewel baie van die kritiek oor negatiewe aspekte handel, moet dit beklemtoon word dat Madiba sedert 1990 bekend was as ’n waardige leier, ’n groot staatsman, ’n verge­wens­gesinde mens en iemand wat mense verenig het. Deur sy voorbeeld as nasiebouer en vredemaker het hy ons land geïnspireer en hoop gegee.”

Die naamsverandering hang egter af van die uitslag van ’n openbare deelnameproses, sê die munisipale bestuurder, Allen Paulse.

“By so ’n openbare deelnameproses kan alle bekommer­nisse geopper word, insluitend kommer oor finansiële uitgawes deur die munisipaliteit, besighede, inwoners en enige ander party.

“Hierdie is die kwessies waaroor ons van die publiek wil hoor tydens die openbare deelnameproses.”

Paulse sê dit is belangrik dat die kwessie deeglik bespreek moet word.

“Wat ook al die uitkoms hiervan, ons glo ons almal sal daarna trots kan wees dat die munisipaliteit, inwoners en ander belanghebbendes by ’n demokratiese proses betrokke was.”

Die openbare deelnameproses sal uit verskeie gemeenskapsvergaderings en kommunikasie­platforms be­staan.

“Ons is ’n demokratiese land. Kom ons debatteer en laat die demokrasie werk. Die munisipaliteit is opgewonde oor die groot reaksie oor die aangeleentheid en sien uit na verdere insette en betrokkenheid.”