Die drie stoele. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
Dié foto van drie verslete stoele in die agterste ry van die openbare gallery in die Oudtshoorn Raadsaal het die week heelwat kritiek en negatiwiteit uitgelok toe Die Hoorn dit Dinsdag op Facebook geplaas het.
Die voorkoms van die stoele (daar was ander waarvan die bekleedsel heeltemal af was) weerspieël egter volgens ons mening die gevolg van twee dekades se probleme binne die Oudtshoorn-raad – onder andere die onvermoë om saam te werk sodat probleme opgelos en daar opgebou kan word. (En die stoele in die raadsaal nie so lyk nie.)
Hierdie onvermoë tot samewerking bestaan tussen raadslede; tussen raadslede en amptenare, en ook aan die kant van inwoners wat dikwels ’n atmosfeer van negatiwiteit skep deur voortdurend van die kantlyn af te kritiseer en te blameer.
Ons is nie naiëf oor die verdelende rol wat politiek binne ’n raad kan speel nie, en besef dat dit dikwels die wortel van verdeeldheid en ’n gebrek aan aksie is. Maar politieke verskille mag nooit ’n verskoning word om nie harder te probeer saamwerk en opbou nie.
Daar is egter ook ander dinge wat daartoe bydra dat opbou nie kan plaasvind nie – soos korrupsie en gierigheid. Die Hoorn het juis die week verneem dat daar in ’n stadium “honderde” van hierdie stoele by die munisipaliteit was en dat daar steeds gepoog word om vas te stel wat daarvan geword het.
Dié verslete stoele is ’n kragtige simbool van hoe Oudtshoorn nie mag lyk nie en wat Oudtshoorn nie moet wees nie en wat sy raadslede én inwoners nie mag toelaat nie.
Oudtshoorn is ’n dorp met besonderse mense en ons ervaar oor die jare nog altyd groot welwillendheid en ’n behoefte aan samwerking oor alle gemeenskapsgrense.
Laat ons daardie welwillendheid en strewe na ’n beter toekoms gebruik om saam te werk as eerder teen mekaar.
Lees gerus die berig bo-aan die bladsy oor die Bome van Hoop-projek – ’n bewys van hoe inwoners kan saamstaan en met trots kan sê: Ons is Oudtshoorn.