Roete 62.
ROETE 62 is pas deur CNN as een van die wêreld se top 10-padroetes aangewys.
Roete 62 wat Kaapstad met Port Elizabeth verbind, is veral bekend vir sy kronkelpad deur die Klein Karoo en verskeie dorpe van die Klein Karoo – soos Oudtshoorn, Calitzdorp, Ladismith, Barrydale, Montagu en Robertson. Die roete is al bestempel as die wêreld se langste wynroete – volgens CNN Travel is dit 748 km lank met 65 wynkelders langs die roete.
Die nuusdiens beveel Chapmanspiek aan as die ideale beginpunt vir die roete en bestempel die warmbronne van die Warmwaterberg-spa, die bekende Ronnie’s Sex Shop, die donkieroete oor die Swartberge en die Klaasvoogds Wildtuin aan as van die hoogtepunte.
Roete 62 se naam verskyn heel eerste op die CNN-lys.
Ander roetes wat die 10-lys gehaal het, is die NC500 in Skotland, die Ticliopas in Peru, Jebel Hafeet in die Verenigde Arabiese Emirate, Atlantiese Weg in Noorweë, die Alcan Hoofweg wat Kanada met Alaska verbind, Transfagarasanweg in Romenië, Great Ocean Road in Australië, Amalfi-kusweg in Italië en Milfordweg in Nieu-Seeland.