Volmoed se winkel open weer deure

Volmoed se winkel.

Volmoed se winkel.

DAAR was Saterdagoggend vreugde op Volmoed, ’n landelike nedersetting sowat 15 km buite Oudtshoorn, toe die winkel daar weer sy deure geopen het met ’n nuwe eienaar wat aan inwoners voorgestel is.

Marlene Kotze, wat 25 jaar lank in die Paarl gewoon het, sê sy wil veral vir die kinders van Volmoed iets beteken. “Die rede hoekom ek besluit het om te verhuis is omdat dit gevoel het asof iets my na hierdie gemeenskap trek.”

Sy sê sy voel dat sy haar plekkie in die lewe gevind het.

“Ons wil graag, met die hulp van die gemeenskap se ondersteuning, iets teruggee aan die gemeenskap. Ons sal niemand wegwys nie en ons sal seker maak ons kry wat almal nodig het. Ons beoog ook om gemeenskapsprojekte te loods soos wat die winkel groei,” het Kotze gesê.

Die geleentheid en geopen met ’n gebed gelei deur een van die inwoners.

Daarna was Harry Langhtrey, bestuurder van die winkel – wat deur Kotze bestempel is as haar “linker- en regterhand” – aan die woord. Langhtrey het gesê hulle beoog om in die alledaagse behoeftes van die gemeenskap te voorsien. Die insette van die gemeenskap is belangrik vir ons. Wat julle insit, sal julle uitkry. Ons het jul ondersteuning nodig.”

Hy het vertel dat hulle selfs beoog om ’n kitsbank by die winkel te installeer sodat mense nie spesiaal dorp toe hoef te gaan vir hul maandelikse maatskaplike toelae nie, en dat hulle beoog om onder meer ook skryfbehoeftes vir die skoolkinders te voorsien.

Hulle beoog ook om ’n bakkie te kry waarmee aflewerings by gemeenskappe verder, soos die van Rooiheuwel, die Kliplokasie en Rooidraai, gedoen kan word.
“Ons gaan dié plek mooi maak en gaan elke dag oop wees sodat ons daar is wanneer iemand iets nodig het.” het Langhtrey gesê. (Berig Ilze-Mari Grundling)

Harry Langhtrey aan die woord, terwyl Marlene Kotze en Volmoed-inwoners na hom luister.

Harry Langhtrey aan die woord, terwyl Marlene Kotze en Volmoed-inwoners na hom luister.