Die Raubenheimerdam en Mellvilledam op Google Earth.
Deur Liesel le Roux
DIE Raubenheimerdam staan vandeesweek op 35,98% terwyl die droogte in die Klein Karoo voortduur en streng waterbeperkings geld.
Oudtshoorn se waterverbruik vir die week van 20 tot 27 February was 10,5 ML per dag.
Volgens die weerdienste is daar tussen Donderdag en Dinsdag wel ’n kans op ligte reën in die gebied.
Die Hoorn het die laaste tyd navrae van lesers ontvang oor die ligging van die damme wat aan Oudtshoorn water verskaf:
Die Raubenheimerdam en die Mellvilledam is beide in die Swartberge ten noorde van Oudtshoorn geleë.
Die Mellvilledam, ’n veel kleiner dam wat net 5% soveel water as die Raubenheimerdam kan hou, is as gevolg van ’n gereelde invloei van bergwater daarin tans konstant 100% vol. Die oorloop van die Mellvilledam beland dan in die Raubenheimerdam.
Ntobeko Mang-qwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die Raubenheimerdam het met ’n watervlak van 36% genoeg water vir 180 dae (ses maande), terwyl die Melvilledam, wanneer dit 100% vol is, ’n bykomende 30 dae se water (een maand) kan verskaf.
Die watervlak van die Raubenheimerdam sal nou ook stadiger daal aangesien loslatings in Januarie, Februarie en Maart volgens wetgewing uit die 1900’s verpligtend is.
“Besproeiers stroom-af van die Raubenheimerdam is ingevolge die wetgewing geregtig op loslatings uit die dam. Die hoeveelhede word deur die waterhofuitspraak bepaal.
“Die laaste loslating vir 2019 is gister (6 Maart) gedoen,” het Mangqwengqwe gesê.