DIT is Meimaand en maak daarom seker jy parkeer jou motor of bakkie saans agter slot en grendel – letterlik!
Dit is die boodskap van kapt Wynand du Plessis, ’n sektorbevelvoerder op Oudtshoorn.
Meimaand is volgens statistiek inderdaad dié maand in die Klein Karoo is waneer voertuie die meeste gesteel word.
Die meeste voertuie in die streek word in elk geval tradisioneel in die wintermaande gesteel wanneer mense saans nie op straat is nie.
Voertuie is boonop in vorige jare dikwels op Oudtshoorn van agter elektriese hekke gesteel met die elektriese hekmotor wat saggies deur die diewe buite werking gestel is – sonder dat die huis se inwoners wakker geword het.
Die polisie het voorheen al gewaarsku dat inwoners moet seker maak slotte wat hul gebruik om hekke te sluit, is van goeie gehalte, en ook om nie voertuie in afgesonderde of donker plekke te parkeer nie.