Oudtshoorn kan weer vir alle rybewyse toets

Ná die opknapping van die munisipale verkeers­toetsbaan op Oudtshoorn kan alle kodes leerlinglisensies en alle kodes rybewyse weer op die dorp uitgereik word.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het gister dié goeie nuus in ’n persverklaring bekend gemaak.

Luidens die verklaring het die Departement van Vervoer die munisipaliteit op 22 Junie ingelig dat die opgeknapte toetsbaan weer voldoen aan alle vereistes vir Graad A-status.

Die toetsbaan is verlede jaar afgegradeer van ’n Graad A-toetsbaan na ’n Graad F-toetsbaan omdat dit nie meer aan die vereiste standaarde voldoen het nie.

Volgens die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het die verkeersafdeling hard gewerk om te verseker dat die Oudtshoorn-toetssentrum weer sy Graad A-status verkry.

“Baie werk en beplanning is gedoen om te verseker dat die toetsbaan op die aanvaarbare standaard is. Die Departement van

Vervoer het Oudts­hoorn besoek om seker te maak dat die baan nou aan ale vereistes voldoen.”

Met die tydelike Graad F-status kon die verkeers­afdeling slegs rybewyse en professionele bestuurspermitte (PRDP) hernu en ’n rybewys van ’n identiteitsdokument tot ’n kaart doen.

Patrick Jordaan, waarnemende verkeershoof, sê hulle beoog om in die derde week van Augustus met die eerste toetse te begin.
Die publiek kan nou reeds begin afsprake maak vir die toetsing vir alle rybewyse.