Nooddienspersoneel behandel Maandag die beseerde Ludwig Zeelie op die botsingstoneel. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
’N JONG Oudtshoorniet, Ludwig Zeelie (23) sterk tans aan in die George Hospitaal nadat hy Maandag ernstig beseer is in ’n botsing tussen sy motorfiets en ’n munisipale vullistrok op die hoek van Voortrekkerweg en Buitekantstraat op Oudtshoorn.
Zeelie se knieskyf is na verneem word in die botsing gebreek en hy het ook ’n kraak in sy skedel opgedoen. Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid (Tuinroete en Sentraal Karoo), was Zeelie se toestand teen Dinsdag stabiel.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die Polisie ondersoek ’n saak van roekelose of nalatige bestuur na die botsing wat net voor 17:00 plaasgevind het. “Die vragmotor het oos in Voortrekkerweg gery en die motorfiets wes. Die vragmotor het in Buitekantstraat ingedraai en die twee voertuie het gebots.”
Intussen het mense heftig op sosiale media op die botsing gereageer – party het die trokbestuurder geblameer vir die botsing terwyl ander beweer het hulle het gesien dat Zeelie baie vinnig in Voortrekkerweg gery het, in ’n stadium net op die agterwiel.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Tobie Alberts (044 274 4400). Mense met inligting oor die botsing word versoek om hom te kontak.