Lloyd-Webber se treffers onder die Klein Karoo-sterrehemel

Corlea Botha. Foto verskaf

Andrew Lloyd-Webber se grootste treffers kan op Saterdag 26 Oktober in ’n produksie op die spog-granaatplaas Celebratio in die Klein Karoo gehoor word.

Die produksie, saamgestel deur Paul Loeb van Zuilenberg, is al verskeie kere met groot sukses landwyd aangebied. Op die verhoog saam met lede van die Stellenbosch Stadsorkes is die immergewilde Corlea Botha en Corneil Müller, wat vroeër vanjaar in The Voice SA te sien was. Dit sal die eerste keer wees wat Corlea in dié produksie te sien is.

Dit beloof om ’n magiese aand te wees by ’n baie spesiale venue – Celebratio is geleë tussen Oudtshoorn en Calitzdorp en die uitsig op die berge en die plaas is asemrowend. Die bome is tans lowergroen en plek-plek begin helderoranje bloeisels kop uitsteek.

Lloyd-Webber se musiekblyspele sal nooit hul trefkrag verloor nie en meeste van hulle word steeds wêreldwyd op die planke gebring.

In die produksie Classical Tribute to the Music of Lloyd-Webber sing Corlea en Corneil treffers uit onder andere Phantom of the Opera, Cats, Evita en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat.

Om wȇreldtreffers soos “Memory”, “All I ask of You” en “I know him so Well” in die opelug onder die sterrehemel van die Klein Karoo te ervaar, is ’n belewenis wat nie misgeloop moet word nie.

Die vertoning begin om 20:00, maar die kos- en wynstalletjies open reeds om 18:00.

Plaaslike restaurante soos Bella Cibo, Karooboom en Nostalgie het heerlike eetgoed op hulle spyskaarte terwyl Calitzdorp Wynkelder, Black Mountain Gin en Liquorland sal sorg vir iets te drinke.

Kaartjies kos tussen R180 en R220 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by Postnet se kantoor op Oudtshoorn.

Goeie nuus is dat daar ook nou beperkte akkommodasie op Celebratio beskikbaar is.

Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.