
Opelugkonserte is vanjaar weer deel van die Rivierbuurt-program.
GOEIE nuus vir KKNK-feesgangers! Die Rivierbuurtkaartjie bied vanjaar toegang tot die gewilde opelugkonserte en ook Huisgenoot se aandkonserte. Nog beter nuus is ’n spesiale promosie vandag (23 Maart) waartydens ’n weekkaartjie vir die Rivierbuurt teen ’n spotgoedkoop prys te koop is.
Die weekkaartjie kos slegs R175 (’n besparing van R75) en bied toegang tot konserte van kunstenaars soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Emo Adams, Bobby van Jaarsveld, HemelBesem, Kurt Darren en Refentse.
Vir diegene wat so na aan die verhoog moontlik wil kom, is golden circle-kaartjies beskikbaar vir Juanita, Bok en vriende (8 April), Theuns Jordaan & Dr. Victor (9 April), kykNET Jukebox (14 April) en Kleurvol (15 April). Dié golden circle-kaartjies, wat nie toegang tot die Rivierbuurt bied nie, kan ook vandag teen ’n afslagprys van R50 per kaartjie (’n besparing van R30) opgeraap word.
“Die opelugkonserte word vir die eerste keer sedert 2012 in die Rivierbuurt aangebied, wat beteken die waarde in die feesterrein is groter as in die verlede. Dié spesiale aanbod is juis omdat ons wil hê dat een en almal die Rivierbuurt moet beleef,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van KKNK.
Buiten vir die opelugkonserte is daar ook twee ander verhoë. By die Kango Kombuis-verhoog tree kunstenaars soos Mwah!, Johan C Venter, Michael Lindt, Elandré Schwartz en vele ander op, terwyl die Coca-Cola-verhoog ’n lekker kuieratmosfeer met skop bied met bands soos Dobbelsteun, Paul Amas & Vriende en Southern Lights Band.
Die Rivierbuurt is ook die tuiste van meer as 450 stalletjies, die pretpark en heelwat om te eet en te drink.
Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word.
• Die aandprogram van die Huisgenoot-verhoog:
Juanita, Bok en vriende met Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Refentse, Jo Black, The Black Ties en Elandré Schwartz. 8 April 17:30.
Theuns Jordaan en Dr. Victor & The Rasta Rebels. 9 April 18:30.
Nicholis, Elizma, The Rockets en Brendan met The Rockets, Nicholis Louw, Elizma Theron en Brendan Peyper. 10 April 18:00.
Emo, Kurt, Karin en Robin met Emo Adams, Kurt Darren, Karin Kortjé en Robin Peters. 11 April 18:30.
Bobby en Rhema met Bobby van Jaarsveld en Rhema Varrie. 12 April 18:30.
Rymklets van Oos tot Wes met Early B, Die Salwing (HemelBesem, Yoma en Linkris), Jerome Rex, RenoKarooKing, Die Hooflig, Japsnoet en DJ Hearing Aid . 13 April 18:30.
kykNET Jukebox met Pieter Koen, BlackByrd, Refentse, Jay, Leah en Willem Botha.14 April 18:30.
Kleurvol (’n konsert met kontemporêre musiek) met Whaden Johannes, Faraway George, Nicky de Kock, Dirja Lekas, Elzabeth van der Bijl, Liesel Harris-Kruger en Malindi Burden. Die mentors van dié konsert is Bouwer Bosch en Leandie du Randt Bosch. 15 April 18:30.