Die Gimmies se sjampanjenooi en -heer, Elizmaré Victor en Stean Burger. Foto’s verskaf
“INTERSKOLE 2019 is ’n belangrike gebeurtenis en datum vir elke leerder van Gimmies. Dit is die hoogtepunt van die seisoen en dié interskole die eerste en laaste vir onder- skei-delik die graad 8’s en 12’s.”
Aan die woord is die skoolhoof van Langenhoven Gimnasium op Oudts-hoorn, mnr Stefanus Potgieter. Die Gimmies meet Saterdag in die jaarlikse interskole-byeenkoms kragte met die spanne van die Hoërskool Punt op Mosselbaai. Een gholf-, agt hokkie-, 10 netbal- en agt rugbyspanne neem die naweek deel, die meeste die afgelope paar jaar.
Potgieter se boodskap is voorts:
“Die uitslag van die verskillende wedstryde sal nog baie lank die middelpunt wees van elke gesprek tydens reünies wat oor die volgende jare gaan plaasvind. Is dit nie wat ’n skool spesiaal maak nie? Is dit nie die rede waarom elke dag van voorbereiding so belangrik is nie, waarom liters sweet en swaarkry op elke veld en baan agtergelaat word nie? Dit maak die skoollewe sinvol en aangenaam.
“Ons is so trots op die sowat 340 leerders wat die naweek ons skool verteenwoordig. Ons het net so baie ondersteuners wat hulle maats langs die baan en veld gaan aanmoedig. Ons trek in groot getalle na Mosselbaai om ons trots te wys!
“Die kompetisie sal hard en genadeloos wees. Sportmanskap het die seisoen die botoon gevoer aangesien ons spelers so afgerig word. Die fiksste en bes voorbereide spanne behoort sukses te behaal, ook ’n lewenswaarheid vir die lewe na skool.
“Voorspoed aan die spanne van die Hoërskool Punt wat as gasheer optree. Dis altyd klipharde kompetisie. Ons wil dit ook nie anders hê nie, en dit maak die dag net soveel meer om na uit te sien.
Sterkte, Gimmies! Dankie aan al die getroue ouers wat week na week hulle kinders ondersteun en baie kilometers afgelê het om dié seisoen saam met hulle te geniet.”
Hoogtepunte uit die program
09:35
o.18A-seunshokkie
12:00
o.18A-meisieshokkie
10:50
1ste Netbalspan
13:30-14:00
Optog en seremonie
14:00-15:20
o.19A-rugbyspanne
15:30
Beker-oorhandiging

Sharé Lund, kaptein van die o.18A-meisieshokkiespan.

Louis Jonck, kaptein van o.18A-seunshokkiespan.

Elizmaré Victor, kaptein van die Gimmies se eerste netbalspan.

Johann Müller, kaptein van die o.19A-rugbyspan.