Kragtoer van stemme by galakonsert en ATKV-konsert

Die bariton Bongani Kubheka wat te sien sal wees in die ATKV-Virtuose in konsert op Sondag, 11 Augustus. Foto verskaf

FEESGANGERS by die 11de Klein Karoo Klassique wat volgende Donderdag op Oudtshoorn afskop, kan uitsien na ’n kragtoer van stemme by die fees.

“Ons bied vanjaar vir die eerste keer sedert 2015 ’n Galakonsert by Klein Karoo Klassique aan en watter beter manier is daar om dit te vier as met ’n fees rondom Vrouedag,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

Die Galakonsert is ’n besonderse viering met duo’s en trio’s uit operettes, musiekblyspele en opera, vertolk deur mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce en soprane Lynelle Kenned en Janel Speelman.

Pianis Philippus Hugo, marimba-speler Dylan Tabisher en violis Valentina Vorster sluit by hulle aan, met Qden Blauw – die jongste solo-kunstenaar om by Klassique op te tree – wat die program op klavier inlei.

Klassique-feesgangers hoor vanjaar vir die eerste keer Speelman se uitsonderlike stem in die Klein Karoo. Sy het tot onlangs in die VSA gewoon en opgetree.

Vir haar is dit spesiaal om die dag na Vrouedag in die Galakonsert op die verhoog te wees.
“Dit stel my en my mede-kunstenaars in staat om deel te neem aan ’n uitvoering wat die rol van vroue in die samelewing vereer. Dit is vir my ’n hoogtepunt om my stem te gebruik as ’n erkenning van die onwrikbare resolusie van vroue regoor die wêreld,” sê Speelman.

Speelman sê verder dat sy geweldig daarna uitsien om Klassique se gehore te ontmoet.

“Ons deel ’n wedersydse liefde vir musiek en dit maak my opgewonde. Klassique bring jaarliks kunstenaars bymekaar om samewerking, groei en ’n hernude trots in ons unieke Afrika-perspektief aan te moedig. Dit is vir my ’n groot voorreg om by dié fees op te tree.”

Kenned is vanjaar met die Kunste Onbeperk-prys vir ’n jong stem vereer en is vir die tweede keer by Klassique te sien. Verlede jaar se optrede saam met André Schwartz was vir haar ’n loopbaan-hoogtepunt. Kenned sê dat sy met die Galakonsert daarna uitsien om saam met ander kunstenaars musiek te kan maak, sommige vir die eerste keer.

“Die program van die Galakonsert bied werklik iets vir almal, uitgevoer deur verruklike musici. Ek is baie bevoorreg om myself in hierdie geselskap te bevind,” sê sy.

Du Toit-Pearce tree vanjaar vir die vierde keer by Klassique op. Die atmosfeer op Oudtshoorn lok haar keer-op-keer terug na die fees.

“Ten spyte van die feit dat daar ’n fees aan die gang is, is alles rustig en gesofistikeerd. Die platform wat Klassique aan kunstenaars bied, is gerespekteerd en dit bly ’n eer om daar te kan optree. Om verder deel te wees van só ’n lekker uitvoering is natuurlik ’n bonus. Die gehore by Klein Karoo Klassique is altyd besonders, as kunstenaar ervaar jy dat hulle werklik daar is om klassieke musiek te ondersteun,” vertel sy.

As sy terugdink aan haar vorige uitvoerings by Klassique, staan Oudtshoorn se koue vir haar uit!

“’n Groot deel van my beplanning voor die uit­voering gaan oor wat ek kan aantrek op die verhoog waarin ek gemaklik kan sing, maar ook warm sal wees,” skerts sy.

Verwag op Saterdag, 10 Augustus, om 19:00 ’n onvergeetlike samekoms van stemme met die Klein Karoo Klassique Galakonsert in die Burger­sentrum met onder meer vertolkings van Barcarolle uit The Tales of Hoffmann, The Flower Duet uit Lakmé, Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu en die komiese Cats’ Duet deur Rossini. Kaartjies kos R150 vooraf en R160 by die deur.

Op Sondag, 11 Augustus, om 14:30 sluit Klein Karoo Klassique af met ATKV-Virtuose in konsert. Bongani Kubheka (bariton), Cameron Williams (saksofoon) en Megan-Geoffrey Prins (klavier) is in dié kragtoer van klanke in harmonie te sien.

“Bongani Kubheka is verlede week as een van die fina­liste in Plácido Domingo se Operalia, The World Opera Competition in Praag aangewys en dit is vir ons ’n groot voorreg om hom by Klassique te verwelkom,” sê Theart. Kubheka was in 2018 die wenner van ATKV-Muziqanto.

Hy neem die gehoor op ’n musikale reis saam met twee ander jong virtuose. Williams was die wenner van ATKV-Muziq 2018 en Prins die wenner van ATKV-Muziq 2016.
Prins het oor die jare ook al verskeie toekennings ontvang, beide in Suid-Afrika en in die buiteland.