Bo: Kinders verlede Donderdagmiddag by ’n buitemuur by Die Lighuis wat tans kleurvol geverf word deur Oudtshoorn se vier Absa-kunstenaars, Colin Meyer, Earlyn Cloud, Zietske Saaiman en Madeleine Miles. Foto: Liesel le Roux
Ander foto’s onder:
• Een van die kinders geniet ’n middagete.
• Kinders genet ’n buite-aktiwiteit.
• Storietyd by Die Lighuis, een van die gewilde ster-projekte by Die Lighuis.
Foto’s verskaf



’N BESONDERSE nasorgsentrum wat die Oudtshoorn Vryburgers in 2011 geloods het onder die nasionale Kos vir Kinders-projek, vra die ondersteuning van inwoners en besighede om voort te gaan met sy strewe om kinders te voed en by te staan.
Die Lighuis wat in Rossouwstraat in Bridgton geleë is, is op 4 Oktober 2013 amptelik deur dr Ivan Meyer geopen, en huisves tans sowat 43 kinders tussen drie en 17 jaar.
“Ons wil graag by Die Lighuis die kinders bemagtig en ’n regverdige kans op sukses in die lewe gee,” sê Stephan Rossouw van die Vryburgers.
By Die Lighuis ontvang die kinders daagliks ’n maaltyd in ’n veilige en ontspanne omgewing waar hulle die middag na skool kan spandeer. Hulle word daagliks besig gehou met onder meer sportaktiwiteite, Die Lighuis-storieklub, besoeke aan instansies in die gemeenskap soos Oudtshoorn Dogs in Need asook die Oudtshoorn Gimnastiek en Tuimelakademie, besoeke aan die plaaslike biblioteek en museum asook talle ander praktiese aktiwiteite en projekte.
Die Lighuis is byvoorbeeld betrokke by ’n hekel-herwinningsprojek, met produkte soos tafeldoeke en plekmatjies wat uit herwinde plastieksakke geskep word en onlangs tydens die KKNK by ’n stalletjie verkoop is.
Die Lighuis-kinders was voorts op Mandeladag aktief in die gemeenskap betrokke by skoonmaakoperasies in Brigdton en ’n besoek aan Coronation Memorial, ’n ouetehuis in die gebied.
Die Lighuis skakel ook gereeld met ander instansies en skole in gesamentlike uitreike vir die Ubuntu-projek.
Gereelde bydrae kan lewens verander
Een van die maniere waarop mense kan help dat Die Lighuis volhoubaar voortgaan met hul werk, is deur ’n klein maandelikse debietorder te teken, sê Rossouw.
“Deur ’n debietorder te teken vir ’n maandelikse bedraggie van so min soos R50 vir ’n jaar, kan mense ons hande vat en saam help om soveel kinders moontlik te bereik,” sê Rossouw. “Alle fondse word gebruik vir kosaankope asook operasionele uitgawes by Die Lighuis en word geadministreer deur die Vryburgers se tesourier.”
Een van die Vryburgers se grootste jaarlikse fondsinsamelingsgeleenthede is ’n jaarlikse wynveiling wat Vrydagaand by die Laerskool Laurus gehou word. Hier sal mense ook die geleentheid gebied word om ’n debietorder vir ’n jaar te teken.
Help met ’n brood vir net R5
Elke inwoner van Oudtshoorn en besoeker aan die dorp kan deur ’n donasie van net R5 aan die Pay it Forward-projek van Camp Roadhouse en Wes-Handelshuis Die Lighuis ondersteun.
Die eienaars van die twee besighede, Johan van Heerden en Jaco Vorster, onderneem om vir elke R5 ekstra wat by Camp Roadhouse en Wes Handelshuis betaal word, ’n ekstra brood te bak wat na Die Lighuis sal gaan om die kinders te help voed.
“Ons dra die res van die koste van die brode,” sê Vorster.
“Dit is vir ons baie belangrik om saam met betroubare diensorganisasies op Oudtshoorn te werk, en dat die hele projek op ’n deursigtige manier bedryf word.”
• Vir meer inligting of debietorders kontak Stephan Rossouw van die Vryburgers (079 878 5070 of stephan@mooigezicht. co.za) of Jaco Vorster van Wes Handelshuis en Camp Roadhouse (082 490 2397 of info@jjz.co.za). Vir meer oor die Pay it Forward-projek besoek www.camproadhouse.co.za/ pay-it-forward/