Saam met Johan Strasheim
Destyds was die ingenieurstudente se eerste jaar op Tukkies heeltemal gene-ries vir alle ingenieursrigtings met basiese wetenskaplike vakke soos wis- kunde, chemie, fisika en natuurlik ingenieurstekeninge. Van die tweede jaar af het studies in rigtings begin vertak, maar die bedryfsingenieurstudente het steeds ’n groot deel van die basiese meganiese ingenieurswese-vakke moes loop. Een van hulle – en nie my gunsteling nie – was termodinamika (ons het gepraat van “termo”).
Dit is die studie van ’n klomp toegepaste fisika wat bietjie meer werklik word wanneer die dinamika van energie en die verband met verskillende tipes enjins bestudeer word – onder andere die stoomenjin asook die tweeslag- en vierslagenjin. Vir ’n aspirant bedryfsingenieur is dit pynlik om dié goed te moet leer en te kan bemeester. Maar dit is nou nie asof jy ’n keuse gehad nie!
Gelukkig was dit net ’n semestervak en die eksamen was in Junie. Ek het altyd my leerwerk baie mooi geskeduleer; ek moes met die hoë werklading. En, natuurlik, as jy vir jouself betaal om deur universiteit te kom, is jy redelik ernstig en gefokus! Die ongewenste alternatief was om by Yskor te gaan werk.
So is dit uiteindelik eksamentyd en ek beplan my leerwerk in “blokke”, met tye tussenin vir ontspan, eet en rus. Volgens my skedule skryf ons termo die Dinsdagmiddag 14:00. Die oggendsessies het 09:00 begin as ek reg onthou. Dit los die hele oggend om te studeer.
Ek staan die oggend rustig op, stort, eet ontbyt en geniet die winterson wat stadig oor Pretoria uitklim.
So skuins na 08:00 beweeg ek boeke toe en skuif alles reg – sakrekenaar, stoomtabelle (dit is gebruik om goed mee op te kyk, ja!) penne, die werke. Laat ek net gou seker maak watter vak ek more skryf…
My hart gaan staan ’n paar sekondes. Ek skryf eintlik termo oor 20 minute – ek het die tyd verkeerd onthou. Dit is vanoggend en nie vanmiddag nie. Ek gryp al my goed en hardloop kar toe, spring in en jaag universiteit toe. Par-kering is tradisioneel ’n probleem vir studente en dié dag is geen uitsondering nie. Ek druk die Datsuntjie in ’n gaatjie in oor ’n randsteen en hardloop na die eksamenlokaal so wat ek kan. Ek kom papnat gesweet daar aan, 40 minute laat.
Die saal is van hoek tot kant vol studente wat oor hulle vraestelle gebuig sit en die verbranding van kreatiewe energie is amper hoorbaar. Dit is nou “panic stations”. Die dame in beheer sê ewe kalm vir my ek het 20 minute om te besluit want ek kan tot 60 minute laat nog toegelaat word.
Nou werk jou brein oortyd om alternatiewe te evalueer. Ek besluit om my kanse te vat en die dosent (sy bynaam was “Oom Stoom”) te gaan opsoek en te smeek vir ’n hereksamen, want termo is nie speletjies nie en jy het elke mi-nuut nodig om te skryf. Veral as jou jaarpunt nie onnodig hoog is nie!
Nou ja, ek is daar weg – vyf vloere in die ingenieursgebou op met ’n 240- hartklop om voor dooiemansdeur op te daag. Toe terug eksamenlokaal toe – vyf vloere se trappe weer af, want die hysbakke vat te lank en ek wil aan die brand slaan van spanning.
Daar aangekom, is dieselfde dame weer ’n toonbeeld van kalmte.
“Nou maar goed, Meneer, jy het vyf minute voor afsnytyd en kan dus toegelaat word. Kom sit sommer hier. Sterkte. Lekker skryf.” Daar gaan sy…
Ek kyk vinnig die vraestel deur en hoor van die studente vra al tweede eksamenskrifte aan, die eerstes is vol. Dit help nie. Ten minste lyk alles wat gevra word, bekend en dit gee my hoop. My tweede toets as aspirant-bedryfsingenieur is op hande …
Ek beplan kalm my tyd haarfyn in terme van die tyd wat aan elke vraag spandeer mag word. Sodra die tydkwota vir ’n vraag gebruik is, los ek ’n stuk papier oop en begin ek summier met die volgende vraag.
As daar aan die einde tyd oor is, kan ek altyd terugkom. Daar was egter nie. Ek het nog nooit in my lewe twee sulke intense ure ervaar nie. Ek handig in en stap uit, absoluut uitgeput soos ’n drooggedraaide waslap.
Die enigste pluspunt was dat ek die middagskof darem bygekry het om te swot aangesien ek nie meer termo die middag skryf nie! Die beste is dat my beskermengel aan my kant was die dag – ek het sowaar termodinamika “gepass”. Nogal met ’n goeie punt ook.
Kan mens in jou tweedejaar al begin grys word? Ek dink so.