Leroux van Vuuren, oud-Kokkedoor-deelnemer, sê dit is lekker om nou op Oudtshoorn te woon. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
’N GEWILDE oud-deelnemer aan die kosprogram Kokkedoor op kykNET, Leroux van Vuuren, het sy hart in die Klein Karoo verloor. Van Vuuren het in 2014 aan die gewilde TV-reeks deelgeneem.
Hy vertel hoe hy tydens ’n staptog van 1 600 km in April vanjaar – waarmee hy geld ingesamel het vir traumabehandeling vir leerders en onderwysers van die Hoërskool Driehoek – deur die Karoo geloop het.
“Dis hier waar ek besef het, ek mis die Kaap, ek is mal oor die Karoo,” vertel Leroux.
Dié staptog vanaf Pretoria na Kaapstad het hy in plakkies afgelê.
Dié hele ding het eintlik as ’n grappie begin, vertel hy.
Hy het sy motor in Augustus verlede jaar in ’n botsing net buite Laingsburg afgeskryf en tydens ’n braai aan een van sy vriende genoem dat hy sy kinders ongelooflik baie mis en sommer na hulle toe in Langebaan wil stap.
So is die staptog gebore waaroor ’n dokumentêre film gemaak is wat binnekort op die TV-kanaal Via te sien sal wees.
Die botsing verlede jaar het ’n groot invloed op sy lewe gehad, vertel Leroux.
Hy is baie ernstig daartydens beseer en moes ’n reeks operasies ondergaan waartydens onder meer staalpenne in sy pelvis ingeplant is.
“Ek het deur ’n rowwe tyd gegaan, en finansieel swaar getrek. Ek het my medies en versekering gekanselleer om geld te spaar, en tydens daardie tyd my kar afgeskryf.”
Dié moeilike tye lê egter nou in die verlede en Leroux is opgewonde oor die nuwe uitdagings en geleenthede vir hom in Oudtshoorn.
“Ek het ’n wonderlike aanbieding gekry by Len Bornman, eienaar van Thabile Lodge net buite Oudtshoorn.”
Leroux is daar betrokke by die bestuur en bemarking van die Lodge, maar hy werk ook tans aan ’n boek en tree op as motiveringspreker.
Hy is voorts daagliks te hoor op ’n radiostasie in Kaapstad.
Intussen brand Leroux om op Oudtshoorn betrokke te raak.
“Ek sien ongelooflik baie potensiaal in Oudtshoorn, en kan nie wag om my moue op te rol en deel te word van die dorp nie,” sê hy.