Haar 5de wêreldkampioenskap

Toy Ungerer.  Foto: Die Hoorn

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se meestersatletiek-wêreldr­e­kord­houer, Toy Ungerer (72), vertrek vandag na Málaga in Spanje waar sy aan haar vyfde Wêreld-meestersatletiekkampioenskap gaan deelneem.

Toy het by die vorige wêreldkampioenskap in 2016 in Australië goue medaljes losgehardloop in die 400 m – waarin sy die wêreldrekord in die uitdun en finaal twee keer verbeter het – asook die 100 m en ’n silwer medalje behaal in die 200 m.

Vanjaar gaan sy weer aan dié drie items deelneem in die ouderdomsgroep 70 plus.

Vir Toy het haar voorbereiding vir die wêreldkampioenskap egter vanjaar veel anders verloop as wat sy beplan het. Sy het sedert vroeg vanjaar begin sukkel met ’n hakbesering en moes ook in ’n stadium ’n operasie ondergaan – beide dinge wat haar weke lank rukke verhinder het om te kon oefen. Sy het ook daarom nie vanjaar aan die nasionale meesterskampioenskap deelgeneem nie.

En hoewel daar ’n mate van onsekerheid by haar was, was sy die afgelope week versigtig optimisties oor haar kanse om teen die sterkste teenstand in die wêreld weer met drie medaljes terug te keer Oudtshoorn toe.

“Ek gaan deelneem om drie goue medaljes te wen,” het sy gesê.

Toy se eggenoot, Nico, vergesel haar Spanje toe en het beloof om die Oudtshoorniete op hoogte te hou deur die kampioenskap.

• Toy se wêreldkampioenskap skop op 5 September af met die uitdunne van die 100 m, en die finaal op 6 September. Die uitdunne en finaal van die 200 m is op 7 en 9 September, en die uitdunne en finaal in die 400 m op 12 en 14 September.