Die Hoorn kry nuwe webblad

shutterstock_272163653

HIER by Die Hoorn pak ons ’n opwin-dende reis aan met ’n splinternuwe webblad – ’n reis waarop ons ons lesers en adverteerders wil saamneem!

Met die digitale media wat toenemend ’n impak op die nuuswêreld en veral die gedrukte koerant het, word ons as’t ware genoodsaak om ons fokus toenemend na ons webblad en die sosiale media te verskuif, ’n stap wat baie nuwe geleentheid vir ons, ons lesers en ons kliënte ontsluit!

Die gedrukte koerant gaan egter voorlopig steeds in sy huidige formaat verskyn. Ons weet baie van ons lesers hou daarvan om die gedrukte koerant in sy/-haar hande vas te hou en te lees. Baie benut nog nie die digitale nuusmedia nie, of wil dit nie gebruik nie.

Ons weet daar is baie inwoners van Oudtshoorn vir wie Donderdag al Hoorn-dag geraak het. Ons het ná die afgelope Kersvakansie weer ’n sms van ’n leser ontvang wat vertel hoe sy oë Donderdae outomaties na Die Hoorn op die rakke begin soek as hy in die winkel kom, al weet hy dit is vakansie!

Diesulkes hoef egter nie bekommerd te wees nie. Hoewel die formaat moontlik in die toekoms mag verander, sal ons steeds die gedrukte koerant uitgee.

Wat ons webblad betref, kon Die Hoorn nie vir beter vennote gevra het as Lumico wat ons met die webblad gaan bystaan nie. Lumico staan onder leiding van ’n ervare koerantman en voorste digitale mediakenner, Willem Breytenbach.

Saam met Lumico, wat onlangs deur Oflocal – The Best of South Africa as die beste sosiale mediabemarkingsmaat-skappy in Kaapstad aangewys is, het ons reeds ’n besonderse nuwe webtuiste ontwikkel waarop ons sommer baie trots is.

En wat die lekkerste van die nuwe webtuiste gaan wees, is dat ons op ’n gereelde grondslag vars nuus daarop gaan publiseer. Elke dag kan dus Hoorndag raak! Maak ook seker om Die Hoorn op Facebook te “like” om van nuwe plasings in kennis gestel te word.

Soos met alle nuwe ondernemings sal daar nog heelwat skaafwerk en verfyning nodig wees, maar ons sien uit na die nuwe uitdagings.

Ons is ook propvol planne oor hoe ons die webblad gaan ontwikkel om dit opwindend en toeganklik vir ons lesers te maak. Die internet bied net soveel meer moontlikhede as die gedrukte koerant.

Net ter agtergrond: Van Oudtshoorn se plaaslike gedrukte koerante spog Die Hoorn steeds verreweg met die hoogste verkope. Ons strewe is om ons webblad die gewildste op Oudtshoorn en in die Klein Karoo te maak.

Die webblad sal vandag al by diehoorn.com besoek kan word en kort daarna by www.diehoorn.co.za sowel as www.diehoorn.com.

Ons hoor graag van ons lesers wat hulle van die nuwe webblad dink! Lesers is ook welkom om met voorstelle te kom wat hulle graag op die webblad sal wil sien. Stuur ’n ’n sms na 073 217 7089 of ’n e-pos na nuus@hoorn.co.za.

Enigeen wat op die blad wil adverteer kan my kontak by 044 272 5605 of by info@hoorn.co.za.